Health

MIV/VIGS Bewusmakingsdag

THABAZIMBI – Legae La Bona, ‘n plaaslike liefdadigheids organisasie het op 13 Desember in samewerking met die SAPD, Kumba en Thabazimbi Munisipaliteit ‘n MIV/Vigs bewusmakingsdag op die plaas Tussenkomst van Willie Roux in Makoppa omgewing gehou. Die dag was gereël om die mense in die plaasgemeenskap en plaaswerkers bewus te maak van die oorsake en verspreiding van MIV/VIGS. Verskeie beraders van Kumba het praatjies gelewer aangaande die oorsake van MIV, die noodsaaklikheid om getoets te word, die behandeling sowel as die voorkoming van hierdie gevreesde siekte. Beraders van Thabazimbi Hospitaal het ook hul dienste vir die dag beskikbaar gestel en ‘n ope uitnodiging is gemaak vir diegene wat wou om sommer daar op die perseel getoets te word. Heelwat van die mense het tot hierdie versoek gehoor gegee. Die bekende plaaslike sanger Phetogo en sy dansgroep het gesorg vir vermaak en Phetogo het ook self ‘n praatjie gelewer oor dwelmmisbruik en die gevare daarvan wat spesifiek op die jeug gemik was. Volgende aan die beurt was Kaptein Thapela van die plaaslike SAPD wat ‘n bydrae gelewer het oor misdaad en die voorkoming daarvan. Na afloop van verrigtinge is die gemeenskap kosteloos van ‘n heerlike maaltyd voorsien wat deur verskeie borge van die dag moontlik gemaak is. Legae La Bona wil graag almal wat betrokke was en diegene wat bydrae gelewer het bedank.