Ouma Hen verlaat haar Kuikenden

THABAZIMBI – Vir meer as 46 jaar lank al kyk sy na ander mense se kinders, maar nogtans skiet haar potblou oë vol trane as sy daarvan praat dat sy Thabazimbi en die kinders wat sy help grootmaak het, moet agterlaat.
Ouma Henna Dicks was waarlik ‘n ouma vir al die kinders waarna sy die afgelope byna half-eeu gekyk het, dis seker dié dat sommige van hulle by haar gebly het tot hulle klaar matriek geskryf het of sommige haar kom opsoek selfs nadat hulle graad gevang het. Sommige van die kleuters in haar skool pas sy op sedert babatyd. Daar is kinders onder haar sorg wie se pa’s en ma’s self deur Ouma Hen se Kuikenden is.
As haar gemoed so vol skiet, glo mens haar van harte as sy sê dat sy nog nie heeltemal gereed is om af te tree nie. Sy sou graag nog so twee jaar wou aangaan met die kleuterversorging, maar hoofsaaklik twee dinge het haar en Oupa Alf laat besluit om Thabazimbi en die Kuikenden vaarwel toe te roep.
Hulle is reeds vir agt jaar op ‘n waglys vir ‘n aftree-oord in Edenvale, waar Henna se suster tuisgaan, en het onlangs plek gekry. Hulle trek einde Januarie 2009 soontoe. Ouma Henna het in die Edenvale-omgewing grootgeword.
Die tweede rede vir die skuif is dat sy fisies net nie meer so goed daaraan toe is nie. Hoe gewillig haar gees ook al is, die vlees wil nie meer nie. So byvoorbeeld sal daar aan haar rug geopereer moet word. Ja-nee, as die jongspan deesdae iets speel, staan sy deesdae heel voor sodat hul haar maar eerste vang, sê sy, sodat sy nie te vinnig of te ver hoef te hardloop nie.
Sy sou verkies om so stil-stil die dorp te verlaat, maar van haar tjokkers se ouers het sterk gevoel dat Ouma Henna se jare in die dorp en aftrede nie sommer ongesiens verby kan gaan nie.
Dat dit egter nie vir haar maklik is nie, is duidelik. Die rede waarom sy so lank aangehou het en haar “werk” so geniet het, is haar liefde vir kinders. Nooit was dit ‘n straf vir haar om na die kinders te kyk nie. En, erken sy, daar is nog baie kind in haar, al is sy nie meer so jonk nie. Dis die opregtheid van kinders wat hulle so maklik maak om lief te hê. Sy glo ook nie dat daar regtig iets is soos ‘n stout kind nie. Kinders se gedrag is heelwat beter wanneer die ouers nie by is nie, meen sy.
Oom Alf vertel dat hy reeds sedert 1936 in Thabazimbi woon, maar het vir ‘n aantal jare in Vanderbijlpark gewoon waar hy vir die destydse Murray & Roberts gewerk het. In 1978 het hy teruggekeer Thabazimbi toe as werknemer van Yskor. Hy en ouma Henna het eers in Sesde Laan gewoon, toe in Elandstraat en die afgelope aantal jare in Eerste Laan. Dwarsdeur die jare het Ouma Henna haar Kuikenden vol kuikens gehou. Natuurlik was haar huis nooit haar eie nie en moes daar gebou word om plek te maak vir die kleuters.
Oupa Alf het reeds gedurende die 90erjare afgetree en heelwat probleme met sy gesondheid gehad. Hy het ‘n been verloor en is nou in ‘n rolstoel. Hy is nie gretig om Thabazimbi te verlaat nie, maar dit lyk darem asof hy uitsien daarna om sy vrou bietjie vir homself te hê.
Dit is egter ‘n troos dat die skool nie doodloop nie en dat Lauret Dick, Ouma Henna se skoondogter, die skool sal oorneem en bestuur op dieselfde perseel in Eerste Laan. Sy het haar na haar hand opgelei, sê Ouma Henna. By Lauret word dieselfde vriendelikheid en lewensvreugde opgemerk as by haar skoonma en daar sal waarskynlik nog baie kindersvoete deur Ouma Hen se Kuikenden loop.