General

Tukkie Debutant samel geld in

THABAZIMBI – Plaaslike liefdadigheidsinstansies het die afgelope week mildelik gebaat by funksies wat gereël is deur ‘n plaaslike skoonheid wat as een van 16 debutante van die Universiteit van Pretoria aangewys is. Een so ‘n funksie is ‘n matveiling wat deur Ravat’s van Pretoria in die Trollopesaal gehou is op Woensdag 26 November.
Suné Barnard, tweede jaar Tukkie-student en dogter van Herman en Anita Barnard van Era Eiendomme, is uit 40 tweedejaarskanditate gekies tot ‘n groep van 16 debutante. Die debutante word op ‘n verskeidenheid van kriteria aangewys, soos voorkoms en akademiese prestasie, maar elke debutant moet ‘n minimum van R20 000 insamel vir welsyn.
Suné het daarop aangedring dat die geld wat sy insamel vir plaaslike liefdadigheidsorganisasies aangewend word. So is daar reeds tydens ‘n buffelveiling onlangs ‘n bedrag van R50 000, as persentasie van die buffelverkope, deur die Herholdts van Dwaalboom aan plaaslike liefdadighede bewillig.
Hierdie geld is tydens die matveiling oorhandig aan Tambotie Versorgingsentrum, Helpende Hande en Abraham Kriel Kinderhuis. ‘n Persentasie van die matveiling word ook bewillig vir Immergroen, die Fase 2-ontwikkeling van Bosveld-Oord. Die Ravats het ‘n mat opgeveil vir R5 000, waarvan die volle bedrag geskenk is aan die Immergroenfonds. Die bedrag wat tydens hierdie veiling ingesamel is, is nog onbekend.