AMANDELBULT – ‘n Prettige bruilofonthaal het ‘n slegte nadraai gehad nadat die troue-fotograaf by haar oornag-gastehuis oorval, aangerand en van haar kamera beroof is.
Die ouers van die bruid, Tuffy en Christine Reyneke, bied ‘n beloning van R5 000 vir enigeen wat die kamera of geheuekaart terugbesorg.
Minette Jonker, fotograaf van Irma Palm Studios op Rustenburg, het foto’s geneem op die troue van Sorika Reyneke en Pieter van Zyl by Die Boom, Amandelbult op Saterdag 11 Oktober.
Minette is teen ongeveer 22:00 terug na Grob’s Lodge waar sy vir die aand tuisgegaan het, toe sy op pad na haar kamerdeur deur ‘n man oorval is. Sy is eers deur een aanvaller met ‘n wapen deur die gesig en oor haar kop geslaan en met ‘n rewolwer aangehou. Daarna het nog ‘n aanvaller op die toneel verskyn.
Een van die aanvallers het haar kamera gegryp en ‘n ander het haar aanhou slaan totdat ‘n ander gas, wat deur haar gille wakkergemaak is, op die toneel verskyn het. Hierna het die tweede aanvaller hom ook uit die voete gemaak.
Haar weldoener het die gastehuiseienaars geskakel wat haar gehelp het om behandeling te kry vir haar wonde by die Swartklip Hospitaal. Sy het verskeie steke aan haar kop. Die saak is aangemeld by die Northam Polisiestasie.
Ma van die bruid, Christine Reyneke, sê dat dit baie hartseer is dat so ‘n lekker en suksesvolle bruilof op so ‘n manier moes eindig. Boonop is hulle nou sonder foto’s van die troue.
Sy doen ‘n beroep op enigeen wat iets mag weet van die kamera, wat ongeveer R25 000 werd is, of geheuekaart om die polisie te skakel. As die kamera of geheuekaart terugbesorg word, sal ‘n beloning van R5 000 uitbetaal word. Sy versoek ook dat bruilofgaste wat foto’s tydens die troue geneem het, afdrukke aan hulle beskikbaar stel.
Vir verdere navrae oor die beloning kan Tuffy Reyneke by 083 731 0588 geskakel word.
