General

Plaasvoorman dood in brand

ROOIBERG – ‘n Voorman van die plaas Hartebeesvley is dood op Donderdag 9 Oktober nadat hy, en ander brandslaners, deur ‘n vuur uit ‘n ander rigting oorval is.
Die voorman, Phinias Nkuna (56 jaar oud) was reeds vir 32 jaar lank werksaam op die plaas Hartebeesvley, tussen Rooiberg en Koedoeskop, van Ben Cohen. Hy word Saterdag in Hammanskraal begrawe. Cohen het Donderdag 16 Oktober ‘n klag van brandstigting by die Rooiberg Polisie aanhangig gemaak.
Blykbaar het ‘n brand reeds twee dae voor verlede Donderdag begin vanaf die noordweste en het werknemers van Cohen vroeër vure help blus op bure se plase. Teen Donderdag was die vuur egter op sy grond, maar het geen wesenlike gevaar ingehou vir mens of dier nie. Brandslaners was besig om hierdie vuur te moniteer vanaf brandpaaie op Cohen se plaas toe ‘n tweede vuur vanuit ‘n ander rigting, vinnig saam met die wind  begin versprei het.
Daar is vermoedelik vanaf die Rooiberg-Sterkfontein-pad se kant voorbrande gemaak en getrek , wat teen ‘n geweldige spoed versprei het na, onder andere, die plaas Hartebeesvley van Cohen.
Die vuur het nader beweeg na die brandslaners wat in kennis gestel is om te onttrek. Die vuur het egter so vinnig nader gekom dat die brandslaners nie betyds kon ontruim nie en  hulle oorval is.
Behalwe dat een persoon sy lewe verloor het, is twee ernstig beseer waarvoor hulle behandeling in die Bela Bela Hospitaal ontvang het vir brandwonde aan hul gesigte, arms en bene. Twee ander brandslaners het ligter brandwonde opgedoen.