Opdatering van Müller-boek
Afstammelinge van die stamvader Antonie Michael Müller word versoek om kontak te maak met Koot Müller wat tans besig is om die Müller-boek op te dateer.
Daar het oënskynlik ‘n aantal Müller-stamvaders wat hulle in Suid-Afrika gevestig het. Die opsteller van die Müller-boek, Koot Müller, versoek egter dat diegene wat onseker is of hulle ‘n afstammeling van Antonie Michael is, ook met die hom kontak sal maak.
Inligting wat benodig word by die opdatering van ‘n geslagsregister is die volle naam, geboortedatum, plek van geboorte, besonderhede van huwelik, volle besonderhede van kinders en sterfdatum van individu. Waar foto’s beskikbaar is van persone wat gebore is voor 1930, kan dit ook aan Koot verskaf word.
Verreweg die meeste Müllers in Suid-Afrika stam af van Antonie Michael Müller (nie “Michiel Mulder” soos verkeerdelik in die Geslacht-register aangegee nie). Hy was afkomstig van Merscheid, na 1891 bekend as Ohligs, en sedert 1929 deel van Solingen, suid-oos van Düsseldorf, Duitsland.
As soldaat van beroep het hy met die skip Hillegonda van die Oos Indiese Kompanjie in 1735 na die Kaap vertrek. Van 1740 tot 1745 was hy kneg by ene A Bergh en het in 1745 volle burgerskap ontvang.
Hy is op 4 Mei 1746 op Roodezand (later Tulbagh) getroud met Adriana van Rooyen (oudste dogter van stamvader Cornelis van Rooyen en sy vrou Jacomina, dogter van ‘n ander stamvader Gerrit van Deventer) en hom toe gevestig op die leningsplaas Zeekoegat, in die huidige distrik Riversdal.
In 1747 het hy dragonder geword in die Swellendamse Burgermag en daarna korporaal. In 1759 is hy bevorder tot luitenant, die tweede hoogste militêre rang en ‘n jaar later tot heemraadslid. In 1763 het hy, om gesondheidsredes, sy ontslag as luitenant aangevra en is in 1768 oorlede, waarna Adriana hom nog 21 jaar oorleef het.
Een van sy drie seuns, Hillegart, het veral bekendheid verwerf as medeleier en verslaggewer van die ekspedisie wat in Desember 1782 na die skipbreukelinge van die Grosvenor gaan soek het.
Die eerste M?ller-saamtrek het plaasgevind in 1948/49 en daarna het prof DF du Toit Malherbe die reuse taak onderneem om ‘n volledige geslagsregister van die Müller-stamvader, Antonie Michael, op te stel. Dit is toe gepubliseer en na die tweede M?ller-fees in 1965 is daar veral gekonsentreer op die restourasie van die huis op Zeekoegat (Riversdal).
Met die derde Müller-fees in Kleinberg (Mosselbaai) in Januarie 1990 is die stamregister vir die eerste keer opdateer en vir die tweede maal gepubliseer. Die volgende M?ller-fees word vir 2010 in Mosselbaai/Riversdal omgewing beplan. Die beplanning is dan ook so dat die opgedateerde M?ller-boek met di? fees beskikbaar sal wees.
Volgens Koot het hy reeds baie goeie terugvoer van ander dele van die land gekry waar hulle kennisgewings in plaaslike koerante geplaas het. Hy hoop dieselfde sal in die geval van Thabazimbi gebeur. Hy versoek dat enigeen wat weet van ‘n Müller-afstammeling oorreed sal word om vir Koot te kontak.
Koot M?ller kan gekontak word by kootmuller@absamail.co.za of Posbus 33436, Glenstantia, 0010 of selfoonnommer 083 3789 550.