Hardekool Bergfietswedren

THABAZIMBI – Die jaarlikse Kumba Hardekool Bergfietswedren wat oudergewoonte tussen die ruigtes en deur die bosse van Ben Alberts Natuur Reservaat plaasvind, het die pas afgelope naweek menige bergfiets-entoesias vanoor die land gelok.
Die nagenoeg 150 inskrywings het ouderdomme van vyfjaar tot 77 jaar ingesluit, en feitlik almal het die resies voltooi.
Volgens Johan Pienaar, organiseerder van die kompetisie, was daar minder inskrywings as verlede jaar, maar ook ‘n hele aantal nuwelinge, van Lydenburg tot so ver as die Kaap.
Die hoofborg vir die kompetisie, Kumba, het gesorg vir groot pryse vir die eerste vyf plekke in elke afdeling verder het hul toegesien dat elke deelnemer ‘n medalje, t-hemp en waterbottel huis toe neem. Die waterpunte is beman deur Die Kwêvoël, Aida, Bertie Joubert Eiendomme en borge van KFC en verskeie instansies het die dag moontlik gemaak. Om die hongerpyne te stil, het die NG Kerk kosstalletjie, onder leiding van Marie Steenekamp, gesorg vir heerlike worsbroodjies en hul beroemde pannekoeke.
Na afloop van die uitmergelende wedren, kon deelnemers wat wag vir die prysuitdeling die lafenis van die koel swembadwater by Ben Alberts lodge geniet.