FeaturedSport

Stof en knap navigasie skei eerste vier spanne van Safari 1000 Tydren

Na ʼn uiters rowwe, stowwerige en in die algemeen ʼn uitdagende Toyota Gazoo Racing Safari 1000, was dit Henk Lategan en sy navigeerder, Brett Cummings in die TRGSA Toyota Hilux IMT EVO wat na ʼn duisendkilometer die oorwinning in hierdie marathon-uitdaging behaal het.

Hierdie tydren was die derde rondte in die SA Rally-Raid Championship wat die naweek van 21 tot 23 Junie in die Thabazimbi Bosveld in die Koedoeskop omgewing plaasgevind het.

Dié span het sedert die aanvang van die tydren hul slag gewys en in ʼn totale tyd van 12 ure, 17 minute en 39 sekondes die wedren gewen.

Hulle het vroeg hul neus aan die voorpunt geplaas deur Vrydag die Castrol Kwalifiserende wedren asook Trajek Een te wen, asook die volgende dag se Trajek Twee en Drie.

Die derde dag het hulle hierop voortgebou deur beide die volgende Trajekte ook te wen.

Vir beide Lategan en Cummings was hierdie resies vanjaar in die Waterberg distrik ʼn nuwe ervaring aangesien hulle nie verlede jaar hieraan deelgeneem het nie. Hulle het ruiterlik erken dat dit inderdaad ʼn beproewende wedren was met navigasie-uitdagings waarmee jy goed moes kophou.

Die wedywering tussen die spanne aan die voorpunt was straf en alhoewel Lategan en Cummings die soetheid as voorlopers ervaar het, kon hulle nie waag om ʼn wiel verkeerd te plaas nie aangesien al vier die voorlopers hul oog op die podium gehad het.

Digte stof gepaard met die finale dag se roete wat beweging beperk het, het ʼn beslissende rol gespeel. Lance Woolridge/Kenny Gilbert (Neil Woolridge Motorsport NWM Ford Ranger T1+) het op die voorlopers ingehaal, maar ʼn papwiel na ʼn homp wat hulle deur die lug laat vlieg het, het het hulle kosbare tyd gekos en hulle het besluit om dit verder rustiger aan te pak. Nieteenstaande het hulle tweede geëindig met net vyf minute se verskil in tyd wat vir hulle ʼn plek op die podium besorg het.

Die twee EcoBoost V6 en Shell-geborgde Ford Rangers het vir beide die tweede en vierde plekke algeheel gesorg.

Die NWM Ford spanlede en heersende kampioene Gareth Woolridge en Boyd Dreyer (#200) het beïndruk met hul vernuf om deur te dring tot vierde algeheel nadat hulle dryfstang en elektroniese probleme Saterdag moes uitsorteer wat hul waardevolle punte gekos het.

Giniel de Villiers/Elvéne Vonk in die tweede TGRSA Hilux IMT EVO het die derde dag derde na Lategan/Cummings weggespring, maar moes uiteindelik met die veertiende plek tevrede wees nadat geluk in die finale trajekte teen hulle gedraai het en skade aan hul voertuig hulle duur te staan gekom het.

Dit het aan Brian Baragwanath/Leonard Cremer (Century Racing CR7 Twin Turbo) geleentheid gegee vir ʼn podiumposisie na ‘feitlik drie perfekte’ dae van resies.

Die Blignaut broers, Fouche en Bertus (#TeamHilux Rally-Raid Toyota IMT EVO) was vyfde, nieteenstaande die 20 minute penalisering van dag twee.

Die res van die top-tien na die drie dae se resies van bykans eenduisend kilometer, sluit in Wors Prinsloo/André Vermeulen (Neil Woolridge Motorsport NWM Ford Ranger T1+) wat hulle remprobleme op die finale dag moes oorkom om agtse algeheel te eindig.

Hulle is gevolg deur Gerhard en Rudi Heinlein (Red-Lined VK56 Evo2) wat tweede geëindig het na ‘n probleemlose resie met Johan en Sean van Staden (Renault Dister) in die derde posisie in hul klas.

Johan de Bruyn/ Adriaan Roets (Red-Lined REVO T1) het elfde algeheel geëindig, ʼn skrale 89 sekondes na die Van Staden familie en vierde in hul klas.

Die uitslag van die 2024 TGRSA Safari 1000 is nie final nie, afhangend van nakoming van spesifikasie ondersoeke.

Die volgende Tydren is geskeduleer vir 16 en 17 Augustus 2024 en word in Parys in die Vrystaat aangebied. Hierdie gaan twee apparte rug-teen-rug wedrenne oor die twee dae wees.

Foto’s: Dave Ledbitter