FeaturedMotorsSport

Goeie begin vir Safari 1000 – Nog 900km wat voorlê

Dag 1 van 3

Met tien persent van die Derde Rondte van die SA Rally-Raid Kampioenskap agter die rug in die Toyota Gazoo Racing SA (TRGSA) Safari 1000, met nog ʼn uitdagende 900km om binne die volgende twee dae af te lê, het die tydren Vrydag 21 Junie ʼn goeie wegspring beleef met die spanne wat in die 14km Castrol Kwalifiseringswedren deelgeneem het. Hierdie wedren om die wegspringposisies te bepaal was deel van die eerste trajek van 100km vir die dag.

Die Tydren is verlede naweek vanaf Vrydag 21 Junie tot Sondag 23 Junie, met Laerskool Koedoeskop in die Thabazimbi omgewing as die beheersentrum, aangebied.
Die dag is oorheers deur baie stof, skerp draaie met oop vlaktes terwyl navigasie sy uitdagings gestel het.

Papwiele en ‘n paar meganiese probleme het saam met skitterende vertonings die verwagting vir opwindende aksie vir die volgende dag se wedren hoog laat loop.

Die span van Henk Lategan,Brett Cummings (TGRSA Hilux IMT EVO) was die eerste om die 14km Castrol kwalifiserings resies Vrydagoggend aan te pak en het dan ook die beste tyd opgestel.

Soos verwag is het die kwalifiserende tye nie veel gaping tussen die spanne gelaat nie met die span van Jayden Els/Henry Köhne (King Price Xtreme SVR) met slegs 2 sekondes verskil in die tweede plek, gevolg met 17 sekondes later met twee spanne met presies dieselfde tyd naamlik Brian Baragwanath/Leonard Cremer (Century Racing CR7 Twin Turbo) en Saood Variawa/Francois Cazalet (TGRSA Hilux IMT EVO) met hul TGRSA spanmaats, Guy Botterill/Dennis Murphy wat met 3 sekondes later vyfde geëindig het.

Die top tien spanne het lootjies getrek vir die wegspringposisies met Botterill/Murphy wat die pad oopgemaak het, gevolg deur Variava/Cazalet en Els/Köhne. Baragwanath/Cremer het vierde weggespring gevolg deur Chris Visser/Albertus Venter (Red-Lined REVO T1+GTR) in die vyfde posisie.

Nieteenstaande die 10de plek wat hulle getrek het, het Lategan/Cummings hierby gebaat deur weereens die vinnigste tyd aan te teken. Hulle totale tyd (01:17:30) was een minuut en 58 sekondes vinniger as die van hulle spanmaats, De Villiers /Vonk wat tussen spanne wat papwiele en meganiese probleme ondervind het vasgevang was.

Na De Villiers/Vonk was dit die heersende 2023 dessert race wenner, Garath Woolridge/Boyd Dreyer (Neil Woolridge Motorsport Ford NWM Ranger T+) wat ingestorm het om die derde vinnigste gekombineerde tyd aan te teken, slegs 30 sekondes stadiger as die huidige SARRC voorlopers, dit nadat hulle Trajek 1 uit die 27ste posisie aangepak het weens ʼn pap wiel gedurende die kwalifiserende rondte.

Steeds onder die top-tien was die broers Fouché en Bertus Blignaut (#TeamHilux Rally-Raid Toyota Hilux IMT EVO) met ʼn totale tyd van 01:21:33, nege sekondes voor Baragwanath/Cremer in sewende plek; Wors Prinsloo/André Vermeulen (Neil Woolridge Motorsport Ford NWM Ranger T1+), 30 sekondes agter hulle in die agtste plek en slegs 14 sekondes voor Eben Basson/Leander Pienaar (#TeamHilux Rally-Raid) die leiers in die Adventurer T1 Class.

Daar was nog vier spanne onder die FIA Ultimate T1+ wat net-net nie die top-tien behaal het nie insluitend drie Red-Lines Motorsport spanne. Die Nederlandse bestuurder, Rients Hofstra saam met Wade Harris (REVO T1+ GTR) het elfde geëindig terwyl Visser/Venter met die dertiende plek tevrede moes wees nadat hulle tyd verloor het met ʼn papwiel en agter Variawa/Cazalet vasgevang was met ʼn stukkende agterste ewenaar.

Die Nederlandse paar, Dave en Tessa Klaassen (REVO T1+ GTR) het vyftiende geëndig.

Meganiese probleme het punte gekos en Schalk Burger/Armand du Toit (King Price Xtreme VW Amarok) asook Daniël Schröder en Ryan Bland (WCT Amarok) kon nie Trajek Een voltooi nie.

Trajekte Twee en Drie, elk oor ʼn afstand van 189 veeleisende kilometers wag op die spanne die volgende dag. Die spanne het die oggend om 08:00  volgens die resultate van die vorige dag weggespring.

Hou gerus Kwêvoël dop vir die volgende twee dae se uitslae van die opwindende Safari 1000 Tydren wat in die Thabazimbi Bosveld aangebied is.

Foto’s: Dave Ledbitter