Brandstigting op Kromdraai
Iewers moet iemand tot verantwoording geroep word vir die brandstigting in die vroeë oggendure van 4 Oktober in Kromdraai.
Groot tamboties, boekenhout- en ander seldsame doringbome – letterlik honderde jare oud – is in die veldbrande verwoes. Ook nuwe boompies wat droogte gely het en sukkel-sukkel oorleef het, is verwoes. Die doringbome, wit in blom, voedsel vir insek en voëls is alles verskroei. Die laaste bietjie gras vir diere, voor die eerste reëns val, is ook afgebrand.
Is afguns die oorsaak vir die brandstigting? Hoe word kinders deesdae opgevoed? Na my mening word hulle grootgemaak sonder respek vir ander, sonder waardes en met ‘n neiging tot vernielsugtigheid. Hoe kan sulke kinders eendag ‘n samelewing tot voordeel wees?
Ek doen ‘n beroep op mense om hul visie te verander. Plekke mag nie afgebrand word nie. Dis onaanvaarbaar en strafbaar!
Ook grootouers moet deel van die verantwoordelikheid dra. Julle het ‘n Godgegewe verantwoordelikheid teenoor jul kleinkinders, ook gedurende vakansietye, om kleinkinders goeie standaarde en waardes te leer. Hulle moet geleer word om nie bo-oor ander mense te loop nie.
Huurders van huise in die omgewing het in hul huise gesit terwyl die vure om hulle gewoed het, en gesê dat dit nie hulle verantwoordelikheid is om vure te help blus nie. Pensioenarisse moes dit doen. Sulke mense behoort hulle te skaam.
Aan die brandstigter wil ek sê: brand gerus jou eie plek af as jy soveel daarvan hou of is dit ‘n manier om jou vyande by te kom? Onthou, die wiel draai…stadig, maar seker.
San Neveling