STEENBOKPAN – Omgewingsinvloedstudies om die impak van twee 5 400 megawatt (MW) steenkoolkragstasies in die Steenbokpan-area te bepaal, het begin. Belanghebbendes en geaffekteerde partye moet voor 15 Oktober registreer as hulle deel wil vorm van die publieke deelname proses..
Drie moontlike liggings van onderskeidelik ongeveer 8 330ha, 7 380 ha en 8 120 ha word ondersoek vir die bou van die kragsentrales. Die gebied strek van die plase Rooiboklaagte en Haakdoornhoek in die weste tot Doornlaagte en Knopjesdoorn suid tot Leliefontein en Taaiboschpan oos en Minnaarspan, Schulpadfontein en Dwars-in-de-Weg noord.
Waar daar aanvanklik terreine gesoek is vir een kragsentrale, het dringende persverklarings Woensdag die sterk moontlikheid van ‘n tweede kragsentrale, op dieselfde potensiële liggings bekend gemaak.
Groot ongelukkigheid heers reeds onder boere en grondeienaars in die omgewing oor die voorgestelde 765kV kraglyne wat oor die Waterberg-area opgerig sal word om krag van die voorgestelde Dinaledi-substasie naby Madupi na ‘n voorgestelde substasie in Potchefstroom te vervoer..
Die voorgestelde Steenbokpan-kragstasies sal in alle waarskynlikheid binne 30km van die steenkoolmyne, wat ook nog in die gebied ontwikkel moet word, opgerig word as gevolg van die tegniese beperkings van die bou en bedryf van vervoerbande langer as 30km.
Die Waterberg en Mmamabula steenkoolvelde in Suid-Afrika en Botswana vorm ‘n groot enkele steenkoolveld wat van wes na oos strek oor die grens met Botswana. Twee steenkoolkragstasies Medupi en Mmamabula is aan weerskante van die steenkoolveld opgerig en opgewerkte elektrisiteit word deur middel van 400kV kragdrade by die Suid-Afrikaanse stelsel aangesluit.
Steenkool word ontgin in oopgroefmyne en daar word geraam dat daar tussen 52 en 62 biljoen ton rou steenkool voorkom in ‘n area van 590 km, hoofsaaklik oos van die Limpopo. Wetenskaplikes beraam dat 40% van Suid-Afrika se oorblywende steenkoolreserwes in die Waterberggebied voorkom en dit dus ‘n baie belangrike natuurlike hulpbron vorm. Daar word geskat dat hierdie steenkoolveld vir die volgende 200 tot 400 jaar steenkool sal oplewer.
Die voorgestelde steenkoolkragstasies by Steenbokpan is groter as beide die Medupi- en Matimba-kragstasies en sal ‘n geïnstalleerde kapasiteit van 5 400 megawatt (MW) besit en sal uit ses eenhede van ongeveer 900MW elk bestaan.
As deel van die projek sal daar, onder andere, ook ‘n afvalwaterbehandelingswerke, ‘n demineraliseringsaanleg, toegangspaaie en spoorinfrastruktuur, fasiliteite vir die berging en hantering van gevaarlike afval, damme vir die berging van skoon en vuil water en ‘n konstruksiedorp opgerig word.
Vergaderings met partye wat direk geraak word deur die oprigting van die kragsentrales word vandag en more gehou. Ander belanghebbendes moet aansoek doen om as ‘n geaffekteerde party te registreer voor 15 Oktober.
Vir meer inligting kan die OIB (Omgewingsinvloedbepaling) Kantoor vir Openbare Deelname, Zitholele Consulting, Posbus 6002, Halfweghuis gekontak word. Die telefoonnommer is 011 254 4855 en die faksnommer 011 805 2100. Aansoek kan ook per e-pos gerig word aan Annelle Odendaal by aodendaal@zitholele.co.za .
