Kar rol na matriekafskeid
THABAZIMBI – ‘n Matriekseun is hierdie week op twee klagte van Roekelose en/of Nalatige Bestuur skuldig bevind nadat hy, ná die matriekafskeid Saterdagaand, eers in iemand vasgery het en daarna sy motor gerol het.
Die voorval het Sondagoggend ongeveer agtuur plaasgevind. Volgens Wolf Buitendag, eertydse hoofverkeersbeampte in Thabazimbi, het hy in Hamerkopstraat, by die kruising met Steenbokstraat, gestop toe hy van agter getref word deur ‘n rooi Golf. Die bestuurder het vinnig agteruit gery en weggejaag in Steenbokstraat.
Sowat ‘n halfuur later, in ‘n poging om weg te jaag van die agtervolgende motor van Buitendag, het die bestuurder van die rooi Golf sy motor gerol by die kruising van Hamerkop- en Van der Bijllaan. Niemand is beseer nie en die bestuurder het van die toneel verdwyn.
Volgens inwoners van Steenbokstraat is hulle keelvol daarvoor dat jaagduiwels hierdie straat, wat deurgang bied tussen Hamerkop- en Elandstraat, as ‘n renbaan gebruik. Hulle kinders is nie veilig naby die straat nie en stopstrate word gereeld geïgnoreer. Hulle verwag ‘n noodlottige ongeluk enige oomblik.
Volgens Buitendag weet hy van nog ‘n ongeluk waarby ‘n matriekleerling die vorige aand betrokke was, naby die ouetehuis. As gevolg van sy ondervinding in die verkeersdepartement is hy elke jaar ten tye van die matriekafskeid senuweeagtig oor ongelukke wat mag gebeur en ouers wat moontlik slegte nuus kan ontvang. En vanjaar was dit sowaar hy, wetsgehoorsame burger, wat aan die kortste ent getrek het na die afskeidspartytjies. Gelukkig is die skade aan sy motor reeds herstel en betaal, sê hy.
Die eienaar van die rooi Golf het die afgelope week in die hof verskyn en is skuldig bevind op twee klagte van Roekelose en/of Nalatige Bestuur. Hy het skulderkennings betaal.