THABAZIMBI – Die wenkarkas by die Bosveld Karkaskompetisie het nie alleen uitstekende punte behaal nie, maar ‘n groot getal inskrywings is ontvang en die aanbieding was van hoë gehalte.
Die wenkarkas het 99,97 punte uit ‘n moontlik 100 behaal, wat dieselde punte is wat die nasionale wenner verlede jaar behaal het. Die wenkarkas was ‘n Bonsmara-os wat ingeskryf is deur Erich Herholdt van Dwaalboom en is teen R40/kg aangekoop.
In die afdeling vir groepwenners was Rietvlei Voerkrale van Rustenburg eerste en twee groepe van Erich Herholdt tweede en derde. Daar was ook wenners aangewys in die afdeling vir Opkomende Boere (Matewis Moyo) en Brahman-afdeling (Derick Myburg).
Die kompetisie, wat van Woensdag 24 September en Saterdag 27 September geduur het, is vanjaar vir die derde agtereenvolgende jaar deur die Thabazimbi Abattoir aangebied. By dié kompetisie word boere deur die hele Limpopo verteenwoordig en die wenners van hierdie kompetisie ding mee teen wenners in ander streke om die nasionale titel.
Die kompetisie word landwyd geloods deur SAMIC (South African Meat Industry Company) en beoordeling word ook deur hierdie instansie behartig, wat die basis van beoordeling baie eenvormig maak.
Die beoordeling het Woensdag op die lewendige diere (oftewel “op die hoef”) plaasgevind en die karkasbeoordeling op Saterdag. Die beoordeling op die hoef geskied met die oog, maar tydens die karkasbeoordeling is beoordeling ietwat meer wetenskaplik waar verskeie riglyne gemeet kan word, bv gewig voor en na slag, die meting van die vetlaag op verskillende plekke op die karkas en die vet:vleis verhouding. Hierdie inligting word in die rekenaar gevoer en ‘n wenner word elektronies bepaal.
Die osse, wat almal ongeveer 1 en ‘n half jaar oud is, is meestal A-graad beeste in die A2-klas, wat beteken dat dit vleis van die beste kwaliteit is.
Volgens Nico Meyer, vleisinspekteur en –gradeerder by die Thabazimbi Abattoir en organiseerder van die kompetisie, was al die inskrywings van hoogstaande gehalte en het grootliks bygedra tot die sukses van die kompetisie in hierdie streek. SAMIC wys ook wenners aan ten opsigte van die instansie wat die beste aanbieding gelewer het, en in hierdie afdeling het die Abattoir goed gedoen en verwag Nico dat hulle heelwat beter sal vaar as verlede jaar toe hulle tiende geëindig het. Waar die Noordwes-streek gewoonlik met die louere wegstap omdat dit as prima beeswêreld beskou word, en die kompetisies so goed aangebied was, is die Bosveld stadig maar seker besig om hulle in te haal.
Die Abattoir-bestuur is baie tevrede met die opkoms by die kompetisie en dankbaar vir die groot rol wat hul borge gespeel het in die sukses daarvan. Daar was sowat 110 inskrywings en die kompetisie is bygewoon deur ongeveer 100 boere in die omgewing.
Deelnemers en belangstellendes is ook toegespreek deur Manie Booysen van SAMIC oor die internasionale vleistendense en Hanli Steenkamp oor swart bemagtiging in die boerderybedryf.
