Sages-lede klop jongklomp op die gholfbaan
THABAZIMBI – Die nuwe kroeg is toe Saterdag amptelik in gebruik geneem. Die dag het reeds om 10:30 begin toe die gekombineerde Beterbal kompetisie begin het. Die kompetisie was straf en aan die einde van die dag was die twee wenspanne die van Willem du Plessis, Chris Bronkhorst, Len Scott en Vollie Volschenk met 91 punte. Tweede, op ‘n uittel, ook op 91, was dit Johan Prinsloo, Nico van der Westhuizen, Nita en Johan Barnard. Dit is nogal insiggewend dat die wenners almal Sages-lede is. Waar is die sterk, gesonde jong manne? Na die prysuitdeling en toesprake is daar heerlik gekuier en gebraai.
So van die sterk, gesonde jong manne gepraat is dit ook al opgemerk hoe baie van hulle deesdae met karretjies ry terwyl die mank, ouer manne en dames maar moet stap. Daar is gereeld ook briewe en artikels in die Gholf tydskrifte waar spelers van oor die land hulle kommer uitspreek oor die verskynsel. Dalk moet ons net van jong manne praat en die sterk en gesond weglaat.
Vrydag 3 Oktober is dit weer Interaksie Gholf. Spanne moet asseblief probeer om te kom speel aangesien die kompetisie nou einde se kant toe staan. Saterdag 4 Oktober is dit die Dames se Borgdag. Mans kan ook speel. Dan is die liga die 18de op Brits. Onthou ook elke Woensdag se Pick’n Pay Sundowner en die Eklektiek kompetisie.
Dr Willem du Plessis, die groot dryfkrag agter die nuwe kroeg wil graag die volgende persone vir hulle bydrae bedank. Nick Olivier en Len Scott wat vir al die houtwerk verantwoordelik was. Koos Prinsloo, Jannie van Graan, Piet Venter, Mike en Willie Nortje, Alec Steenkamp, Vollie Volschenk, Eltinet, Irma Schlebusch en die kroeg personeel, Piet, Caldon en Mita.