Ford se Model T vier eeufees
Die motor wat die wêreld letterlik op wiele gesit het, die Ford Model T, het op 1 Oktober vanjaar sy 100ste verjaarsdag gevier. Sedert die eerste model in 1908 uit die fabriek gerol het, was hierdie motor, sonder tierlantyntjies, bekostigbaar en ‘n regte staatmaker.
Die Model T het almal se leefwyse verander deurdat dit mobilisasie en voorspoed op ‘n wyse waaroor mens toe slegs kon droom gebied het. Henry Ford het hierdie motor die “universele kar” genoem. Dit het die simbool van laekoste, betroubare vervoer, wat deur die modderpoele gery het waar ander voertuie en perdekarre vasgeval het.
Gedurende die 19 jaar wat die Model T in produksie was, het Henry Ford die motor se prys gereeld aangepas. Nie boontoe nie maar ondertoe. Die oorspronklike prys in 1908 was $825. In 1912 is dit verlaag na $575 en in 1921 na $290. Dit was danksy die vordering in sy fabriek en veral met die inwerkingstelling van die wêreld se eerste bewegende produksielyn in 1913.
Hierdie bewegende produksielyn was miskien Ford Motor Maatskappy se enkele groot bydrae tot die vervaardigingsproses. Hierdie proses is oorspronklik in die Highland Plant in Michigan ingestel en met die nuwe tegniek kon individuele werkers op een werkstasie bly en een taak repeterend op vele voertuie doen soos dit by hom verby beweeg. Op hierdie manier kon die firma alle bestaande produksievlakke van sy mededingers oortref en daarby ‘n goedkoper produk op die mark plaas.
Teen 1921 was elke tweede kar op die pad ‘n Model T Ford.
Die Model T het ‘n indrukwekkende werkverrigting gehad. Dit het ‘n topsnelheid van 45mph (72km/h) gehad en het ‘n gemiddelde brandstofgebruik van 9 liter per 100km gelewer. Die 20 perdekrag sy-klep vier silinder enjin het ‘n tweespoed planeet-transmisiestelsel aangedryf op ‘n 100 duim wielbasis.
Die Model T het die pad aangewys vir die moderne motorindustrie deur nuwe vervaardigingstandaarde te stel en om motors meer geredelik vir die man op straat beskikbaar te maak.
Op 26 Mei 1927 het Henry en Edsel Ford die 15 miljoenste Model T van die produksielyn te Highland Park afgery. Hiermee het die produksie van die Model T in hierdie fabriek dan ook tot ‘n einde gekom. Produksie by die aanlegte in Engeland en Ierland is eers op ‘n latere stadium gestop. In totaal is daar 15 458 781 Model T motors gebou.
In hierdie eeufeesjaar kom Ford weer sterk in die mark met die Ford Fiesta. Gebou op die einste fondasies wat die Model T daar gestel het, is die Fiesta ook daarop gemik om die aandag van die globale gehoor op hom te vestig as ‘n bekostigbare en goed toegeruste dinamies model.