Brandskade by gastehuis
THABAZIMBI – In ‘n brand wat verlede naweek noordwes van Thabazimbi uitgebreek het, is ‘n deel van die Panorama Gastehuis, asook ‘n deel van die eienaars se woonhuis vernietig.
Rhoda en Gert Nel, eienaars van Panorama Gastehuis, sowat 16 km van Thabazimbi op die Ellisras-pad, is verslae oor die teenspoed wat hulle Dinsdag getref het. Die vuur wat Dinsdagoggend nog ver van hul eiendom was, was nie as ‘n wesenlike gevaar beskou nie, en Rhoda is Dinsdagoggend nog Thabazimbi toe vir sake.
Gert, wat Sondag uit die hospitaal ontslaan is met die opdrag om hom baie stil te gedra, is in die loop van Dinsdagoggend uitgeroep toe ‘n deel van hul weiding aan die brand geraak het, vermoedelik vanweë ‘n brandende voël wat die gras aan die brand gesteek het.
Terwyl hy nog in die veld probeer vuur blus het, is hy huis toe ontbied omdat die grasdak oor die stoep, buitekroeg en dek, alles deel van die hoofhuis, aan die brand geslaan het. Die dek is skaars ‘n week tevore voltooi.
Die brand het versprei na die eetkamer-gedeelte van die huis, maar gelukkig kon dit deur die brandweer gekeer word voordat die res van die huis ook in die brand vernietig is. ‘n Macaw papegaai in ‘n hok kon nie betyds gered word nie.
Hierna het die grasdak van een van die selfdoen-eenhede van hul gastehuis ook aan die brand geslaan en die hele gebou is afgebrand.
Volgens die rampbestuur-eenheid van die Munisipaliteit kon nog nie vasgestel word hoe groot die gebied is wat afgebrand is nie, maar die brand het vermoedelik naby Regorogile ontstaan en die berge noord daarvan aan die brand gesteek. Plase wat ook weiding in die brand verloor het sluit in Hartebeesbult en Vlakplaas. Die brand is by Thaba Mosweru
gestop.
Op Dwaalboom is ‘n oppervlak van sowat 30 000 ha ook in ‘n brand die afgelope week verwoes en 13 plase in die omgewing van Silent Valley het weiding verloor.