General

Bakkie ry onder vragmotor in

TWEERIVIERE – In ‘n ongeluk wat Maandag sowat 50 km vanaf Brits op die Thabazimbi-pad gebeur het, is een persoon dood en beide voertuie het aan die brand geslaan.
Die ongeluk het vermoedelik gebeur as gevolg van slegte sigbaarheid omdat die rook wat deur ‘n veldbrand veroorsaak is, sig op die pad belemmer het. Dit blyk dat die bestuurder van ‘n Bantam-bakkie nie goed kon sien nie en in die verkeerde baan vorentoe beweeg het.
Die bakkie het onder die vragmotor, ‘n vervoertrok op pad na Shoprite, Thabazimbi, ingery en aan die brand geslaan. Die vragmotor het daarna ook begin brand waarop die bestuurder vinnig die vragmotor verlaat het.
Die bestuurder van die bakkie was egter vasgekeer en kon nie betyds gered word nie. Ses brandweervoertuie van Brits was kort daarna op die toneel en brandbestryders het die vuur geblus.
Die hitte op die vragmotor was so groot dat die blikkieskos, wat daarop vervoer was, ontplof en in die lug ingeskiet het.
As gevolg van die ongeluk en die brandende voertuie op die pad is verkeer op ‘n 800m-ompad reg langs die teerpad herlei.