Entertainment

Ellisras Toyota Bosveld Avontuurrit in Lephalale

Elana Greyling
 
LEPHALALE – Dis amper tyd vir die Ellisras Toyota Bosveld Avontuurrit op Lephalale op 10-11 Oktober by Die Boskroeg net buite die dorp.
Die avontuurlike gesinsnaweek word aangebied deur Agri Lephalale en is bedoel vir almal met ‘n padvaardige ryding en ‘n tikkie avontuurgees. ‘n Roete deur die lieflike Bosveld, waaronder Safrilands, ‘n privaat reservaat met vier van die Groot Vyf, is reeds uitgelê. Deelnemers kan in enige gewone twee-wiel aangedrewe voertuig deelneem, van motorfietse tot Volkswagen’s. Die roete is in verskillende trajekte verdeel wat elk sy eie interessante uitdagings inhou. Veldvernuf, vaardighede en goeie ou “common sense” gaan getoets word. Daar is groot pryse op die spel, met ‘n eerste prys van meer as R 6 000.
Vrydag, 10 Okt sal uitstallers reeds landbou, toerisme en avontuurtoerusting en dienste begin uitstal. ‘n Volledige inligtingsessie word die aand by die Boskroeg gehou met ‘n braai vir alle deelnemers.
Saterdagoggend, 11 Okt, trek die eerste deelnemers vanaf 7.00 vm weg. Terwyl hulle dit op die roete uitspook, is daar baie pret vir die hele gesin.
‘n Aparte 4×4-baan met sy eie pryse is opgerig. ‘n Baan vir 4-wiel motorfietse en ‘n kinderavontuurbaan sal beskikbaar wees. ‘n Boogskietbaan en ‘Paint ball” sal die jagters besig hou. Daar is ook perdry, springkastele en uitstallings om almal besig te hou met genoeg eet- en drinkgoed vir elkeen se smaak.
Die gaskunstenaar vir die dag is Rooies en sy orkes, al die pad van die Weskus af!
Alle avontuurlustiges word uitgenooi om die dag saam met Agri Lephalale en hul borge te kom deurbring. Navrae kan gerig word aan die Agri-kantoor by 0823023772 of 014-7631888.