Die Vryheidsfront Plus het sy stem by invloedryke Suid-Afrikaners en internasionale figure asook Zimbabwe se opposisieleier gevoeg en geëis dat ‘n Verenigde Nasies (VN) vredesmag na Zimbabwe gestuur moet word om die politieke dooiepunt daar te help oplos.
Die MDC-leier, Morgan Tsvangirai, het ‘n oproep gedoen dat die VN met “militêre mag” in Zimbabwe tussenbeide moet tree. Die Keniaanse Eerste Minister, Raila Odinga het ook gevra dat vredesmagte ontplooi moet word.
Bekende Suid-Afrikaners soos Desmond Tutu en skrywer William Gumede het ook gevra dat ‘n VN-vredesmag in Zimbabwe ontplooi word. Tutu het sover gegaan om te sê dat so ‘n mag nodig is om ‘n “Rwanda-styl menseslagting” te voorkom.
Dr Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep, het gesê dat die ANC se onlangse sterk standpunt teen Zanu-PF se vergrype in Zimbabwe verwelkom word, maar hy het sy teleurstelling oor die ANC se opposisie teen ‘n VN-vredesmag uitgespreek.
“Dit behoort nou al duidelik te wees dat Robert Mugabe hom nie aan enige mooipraat of resolusies steur nie. Mugabe maak daarop staat dat die Suid-Afrikaanse regering en die internasionale gemeenskap se aksies net by diplomasie sal bly en daarom ignoreer hy hulle eenvoudig. Dit is slegs fisiese militêre ingryping deur die VN wat aan Zanu-PF die erns van die saak sal demonstreer”, het dr. Mulder gesê.
Volgens dr Mulder moet mnr Odinga se oproep in besonder ernstig opgeneem word. Odinga het eerstehandse ervaring van hoe ‘n land onstabiel kan raak as demokratiese prosesse nie respekteer word nie. Kenia was vir weke lank in politieke geweld vasgevang na ‘n korrupte verkiesing. “Eerder as om ‘n VN-vredesmag teen te staan, behoort Suid-Afrika ‘n leidende rol te speel in die ontplooiing daarvan”, het dr Mulder bygevoeg.
