Skandalige optrede deur die Johannesburg Metropolisie
Die Vryheidsfront Plus het sy skok en afkeer uitgespreek oor die optrede van die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) gister waar die Metropolisie-lede in ‘n poging om te staak, hulleself gewend het tot misdadige optrede deur hoofpaaie in Johannesburg wederregtelik af te sper. Dit het uiteindelik gelei tot ‘n skermutseling tussen die JMPD en SAPD.
Hierdie optrede kom minder as ‘n week nadat adv Anton Alberts, Vryheidsfront Plus-raadslid in die Johannesburg Metroraad, die gedrag, toegewydheid en opleiding van die Metropolisie in die raadsvergadering van 19 Junie 2008 gekritiseer het. LBK Phakathi het tydens die vergadering aggressief gereageer op adv Alberts se kritiek en hom daarvan beskuldig dat hy nie weet wat die werklike stand van sake is nie. Hy het verder adv Alberts daarop gewys dat die Johannesburgse Metropolisie hierdie jaar ‘n prys gewen het vir die beste polisie-eenheid in die land. “LBK Phakathi kon eenvoudig nie glo dat ek dit waag om die JMPD te kritiseer nie”, sê Adv Alberts. “Ek was die enigste stem in die hele raad wat dit gewaag het om die JMPD se swak optrede en opleiding bloot te lê.”
“Nou blyk my kritiek geregverdig te wees, maar in ‘n veel erger omvang as waarvan ek kon droom”, adv Alberts gesê. “Hoe is dit moontlik dat twee polisie-eenhede in ‘n skietgeveg met mekaar betrokke kan raak? Hoe ver het die JMPD se opleiding, dissipline en selftrots gedaal om tot op hierdie plek te kom? Dit is duidelik dat Johannesburg terug is in die ou dae van die Wilde Weste waar die geweer die reg is en geregtigheid nie bestaan nie”, het adv Alberts verder kommentaar gelewer.
Die enigste oplossing sal wees om alle JMPD-lede wat deelgeneem het aan die staking summier te ontslaan. Diegene wat hulle skuldig gemaak het aan onwettige optrede, moet gearresteer word. Die enigste oplossing is om nou voorbeelde te maak van diegene wat veronderstel is om die publiek te beskerm.