Munisipale belasting tariewe beskikbaar
THABAZIMBI – ‘n Maksimum van 40% verhoging in eiendomsbelasting sal vanaf 1 Julie betaalbaar wees in Thabazimbi met die inwerkstelling van die nuwe eiendomswetgewing landwyd.
‘n Verhoging van 9% op dienstetariewe word ook ingestel. Boere/plaaseienaars betaal ook vir die eerste maal eiendomsbelasting vanaf 1 Julie 2008.
Die stofopskop oor die nuwe belastingwet en die implikasie wat dit op Jan Alleman se sak gaan hê, kan vir eers gaan lê. Hoewel die waardasie van eiendomme baie hoër is as in die verlede toe eiendomsbelasting slegs op die grondwaarde vasgestel is, is die tariefskaal waarvolgens maandelikse belasting betaal word, heelwat laer as in die verlede.
Waar ongelukkigheid bestaan oor die “hoë” tariewe van Thabazimbi, verseker die munisipale bestuurder, Roger Nkhumise, inwoners dat met die afslag aan residensiële eienaars, tariewe goed vergelyk met tariewe wat deur ander munisipaliteite gehef word.
Boonop het Thabazimbi se munisipaliteit die versekering gegee dat vanjaar (van 1 Julie 2008 tot 30 Junie 2009) ‘n maksimum van 40% verhoging op die eiendomsbelasting gehef sal word. Die verhoging sal daarna geleidelik oor die volgende drie jaar infaseer word.
Die persentasie waarmee eiendomsbelasting verhoog word, wissel van eiendom tot eiendom. Sekere eiendomme sal selfs minder belasting betaal, en aan die ander kant is daar stygings van amper 400%, met ander woorde vier maal meer as die huidige belasting. Groot stygings soos hierdie sal hoofsaaklik betaalbaar wees deur eienaars van eiendomme wat oor die R1m waardeer is. Sulke tipe verhogings sal oor vier jaar infaseer word.
‘n Eenvormige tarief van R0,0085/R is vasgestel. Dit beteken dat vir elke rand wat die eiendom waardeer is, word R0,0085 aan eiendomsbelasting betaal per jaar. Sekere rabatte of afslag is ook van toepassing op sekere groepe mense.
Vir ‘n residensiële eiendom word ‘n R30 000 van die waardasie afgetrek (soos wetlik verplig word) en dié wat ontwikkel is (m.a.w. wat geboue op het) kry 40% rabat. Inwoners van Leeupoort is op ‘n verdere 20% rabat geregtig, omdat hulle nie infrastruktuur nie op dieselfde standaard is nie as dié van ander dorpe in Thabazimbi se munisipale distrik.
As ‘n eiendom, byvoorbeeld op R430 000 waardeer is word a)R30 000 van die belasbare bedrag afgetrek en b)slegs 60% (40% in Leeupoort) van die oorblywende R400 000 belas, m.a.w. R240 000 teen R0,0085/R. Dit bring die bedrag betaalbaar vir die jaar op R2040 te staan. Maandeliks sal dus ‘n bedrag van R170 betaalbaar wees.
Indien die eienaar voorheen egter slegs R85 per maand betaal het, sou dit ‘n verhoging van 100% beteken. Vir die eerste jaar word ‘n verhoging van maksimum 40% ingestel, m.a.w. ‘n bedrag van R34. Altesaam sal die huiseienaar R119, in plaas van R85 van die verlede betaal. Die orige 60% (R51) verhoging sal infaseer word oor ‘n periode.
Volgens voorbeelde wat die munisipaliteit verskaf het, sal ‘n huiseienaar wat voorheen R474 eiendomsbelasting ‘n maand betaal het en ‘n huis wat op R1,6m waardeer is, nou ongeveer R663 per maand betaal. Omdat die R474 per maand egter hoog was om mee te begin, sal ‘n minimale aanpassing in die opvolgende drie jaar geskied.
Iemand wat egter op ‘n baie lae grondwaardasie (bv R21 000) belasting betaal het en ‘n huis wat op R2m waardeer is op die eiendom het, mag ‘n verhoging van R230 tot R844 oor vier jaar in hul belasting ervaar, maar slegs 40% van die verhoging is die eerste jaar betaalbaar.
Plaaseienaars kry twee vorme van afslag die eerste jaar. ‘n Afslag van 40% word toegestaan omdat hulle die eerste maal belasting betaal. Omdat hulle nie dieselfde dienste ontvang as plaasbewoners nie, kwalifiseer boere vir ‘n addisionele 80% rabat gedurende die eerste jaar.
Vir die eerste jaar sal die boere soos volg betaal. As ‘n plaas op R5 650 000 waardeer is word belasting bereken op slegs 20% van daardie bedrag, naamlik R1 130 000 aangesien die boer vir ‘n 80% rabat kwalifiseer. Volgens die tariefskaal van 0,0085/R is R9605 deur die boer betaalbaar op daardie bedrag per jaar. Met die 40% rabat vir eerste keer belastingbetalers kom die bedrag op R5763 te staan oftewel R480,25 per maand.
‘n Plaas wat op R1 711 500 waardeer is sal maandeliks R145,48 betaal en ‘n plaas wat op R360 500 waardeer is, sal maandeliks R30,64 betaal vir die eerste jaar.
Vir die belastingjaar wat op 1 Julie 2008 begin, kwalifiseer alle plaaseienaars outomaties vir die rabat van 80%. Vanaf die volgende belastingjaar moet boere egter aansoek doen vir rabatte wat ‘n maksimum afslag van 85% beteken op hul belasbare bedrag. Hierdie aansoeke moet die munisipaliteit bereik voor 31 Oktober 2008.
Plaasboere kwalifiseer in die tweede jaar wat hulle belasting betaal vir ‘n 50%-afslag van hul waardasiebedrag as deel van die infasering-beginsel, in die derde jaar kry hulle 25% afslag en in die vierde jaar betaal hulle belasting op die volle waardasie.
Die afslag waarvoor boere moet aansoek doen voor einde-Oktober vanjaar is soos volg: waar geen munisipale paaie is nie, kan boere aanspraak maak op 10% rabat, 20% rabat vir gebrek aan waterlewering, 10% rabat vir elektrisiteit wat nie deur die munisipaliteit gelewer word nie, 10% rabat vir die afwesigheid van riolering, 10% rabat vir die gebrek aan vullisverwydering, 5% rabat vir werkskepping, 10% rabat vir verskaffing van permanente behuising aan werknemers, 5% rabat as water verskaf word aan werknemers, 5% as elektrisiteit aan werkershuise gelewer word en 5% rabat as grond of geboue verskaf word vir begraafplase, opvoeding of ontspanning vir werknemers.
Rabatte is ook van toepassing op die volgende eiendomme in dorpe. Ouetehuise betaal geen eiendomsbelasting, skole en hospitale kry 50% afslag en eiendom in staatsbesit kry tussen 20 en 30% afslag.
Sekere pensionarisse (asook goedgekeurde aansoekers) is ook geregtig op afslag op eiendomsbelasting. Waar die eienaar van ‘n eiendom 60 jaar en ouer is en sy/haar inkomste R5000 of minder is, is die pensionaris geregtig op 100% rabat as die waarde van die eiendom minder as R100 000 werd is, 75% rabat as eiendom tussen R100 000 en R150 000 werd is, en 40% afslag as die eiendom meer as R150 000 werd is.
Armlastiges ontvang ook verligting. Indien die maandelikse inkomste minder as R1650 is en die eiendom minder as R100 000 werd is, kry die persoon 100% rabat en 75% rabat as die eiendom tussen R100 000 en R150 000.
Ten spyte van die 14% verhoging in elektrisiteit in Januarie vanjaar en die huidige verhoging van 13%, word elektrisiteit, soos al die ander dienste, naamlik riolering, water en vullisverwyder, slegs met 9% verhoog.
Die munisipaliteit het reeds die verhoging in elektrisiteitskostes namens inwoners absorbeer, met ander woorde Thabazimbiërs het nie daardie verhoging betaal nie. Vir hierdie rede mag ‘n verdere verhoging in elektrisiteitstariewe later aangekondig word.
Die vraag word gevra waarom eienaars eiendomsbelasting moet betaal en waarom boere, wat reeds so swaar kry, nou ook nog hierdie ekstra uitgawe moet dra. Die eerste rede is omdat dit so deur die wet verplig word.
Boonop verskaf die munisipaliteit dienste soos verkeersbeheer, paaie, straatligte, ekonomiese en dorpsontwikkeling. Ander dienste weer, soos biblioteke, die onderhoud van gemeenskapsfasiliteite en klinieke word gedeeltelik deur die munisipaliteit finansier.
Hierdie dienste is nie noodwendig meetbaar nie, maar word tog gebied, nie net aan dorpsbewoners nie, maar almal wat die dorp “gebruik”, hetsy om sake te doen, kinders skool te laat gaan en hospitale te besoek. Vir hierdie rede is gevoel dat boere in ‘n mate moet bydra vir dienste deur die munisipaliteit gelewer.