Ons lesers skryf: Eskom hou ons in die donker
Dinsdagmiddag het die krag by ons huis op Mooivallei skielik afgegaan en ‘n week later was die krag steeds nie herstel nie.
Twee dae nadat dit aangemeld is, ontvang ons ‘n SMS van Eskom met ‘n opdragnommer en die naam van ‘n persoon wat dit sou kom herstel. Wat ‘n verligting, maar helaas, niks gebeur nie.
Ons kan nie bel nie, want die krag is af. Dit lyk nie asof die mense by Eskom veel gepla is met ons probleem nie. Intussen gaan ons lewe voort in die donker. Vrydag, Saterdag en Sondag gaan verby. Kerslig en uitneemetes is aan die orde van die dag.
Op Maandag hou daar skielik drie Eskom-voertuie by ‘n kragpunt in die omgewing, nie ons s’n nie, stil. Die “eienaar” op die eiendom verduidelik dat hy niemand ontbied het nie en daar ry ons hoop weeg. Ons raak eers Maandagmiddag daarvan bewus dat hulp so naby was, maar dat die krag steeds af is. Intussen is die verantwoordelike persoon by Eskom “af siek” geboek.
Hoe lank sal dit nog aanhou? Geen ander huise is in die dorp beskikbaar nie. Ons hande voel totaal afgekap. Moet ons maar alles so aanvaar?
Ons enigste oplossing is om hande te vat en bid vir die mense en ons land. Ons land het gebede nodig, dan behoort die lig ons lewe altyd te skyn.
Die Esterhuizens