General

Aandtak vir Thaba VLU?

THABAZIMBI – Die moontlikheid om ‘n aandtak vir die VLU Thabazimbi te stig, is ‘n moontlikheid.
Angie Gillespie, takvoorsitter, het verduidelik dat daar dames is wat voldag werk, wat graag by die VLU wil aansluit. Sy vra dat belangstellendes haar sal kontak by 082 613 3475.
Tydens hul laaste vergadering op 5 Mei het die VLU Thabazimbi bymekaargekom by Marietjie van der Merwe en heerlik gekuier in die pragtige tuin van Aandrus Kwekery.
Die lede het hartseer afskeid geneem van Patricia Morris, wat na KwaZulu-Natal verhuis. Volgens hulle was sy ‘n baie aktiewe en beminde lid. Sy het nog destyds die tak se embleem ontwerp en daarmee ‘n prys van R200 losgeslaan. Een van die taklede, Trudie Sauer, het aan Patricia ‘n skildery, wat sy self geskilder het, gegee as afskeidsgeskenk. Zettie Pelser het dit geraam.
Daar was terugvoer van die tak se verteenwoordigers wat die VLU-Noord se kongres op 7 en 8 Mei by Weesgerus in Nylstroom bygewoon het.
Die tak se volgende vergadering word gehou op 12 Junie by die Kunstegrot om 09:00.