Goeie opkoms vir Helpende Hande

THABAZIMBI – Heelwat ondersteuners vir Helpende Hande het Vrydag die geselligheid wat by die Trollopesaal by die skouterrein aangebied is ondersteun.
Die aand is in samewerking met MMT Metals van Thabazimbi aangebied om fondse vir Helpende Hande, wat omsien na plaaslike kanker- en terminale kankerpasiënte, in te samel.
‘n Heerlike ete wat deur ‘n verskeiedenheid van vrywilligers voorberei is, is aan die gaste voorgesit terwyl Pierre du Preez en sy groep van M&V Events vir lekker dansmusiek gesorg het. ‘n Paar eregaste wat reeds die ondersteuning van Helpende Hande ervaar het saam met die ander gaste heerlik saam gekuier.
Helpende Hande is deur Rykie May en haar man Don in die lewe geroep aangesien daar ‘n groot behoefte in die dorp en omgewing bestaan vir die versorging van veral terminale kankerpasiënte. Sy en nog vrywilligers sien hierna om by die fasiliteite wat hulle by die ou kommandoterrein bekom het. Aangesien hulle sonder enige bystand van ander nie-regeringsinstansies soos KANSA oor die weg moet kom, is hulle bykans totaal afhanklik van inisiatiewe deur firmas soos MMT Metals om hulle te help in hul fondsinsamelingspogings. Hiermee saam word daar ook pannekoek gebak en hou hulle ook koekverkopings.
Buiten die versorging van terminale kankerpasiënte by hul eie perseel, besoek en ondersteun hulle ook ander terminale- en kankerpasiënte by hul wonings.
Indien u kan bydra om die lot van hierdie mense te verlig is u welkom om Rykie by 0826024379 te skakel.