General

Tambotie Versorgingsentrum hou geslaagde jaarvergadering

ds Dirk Laufs

THABAZIMBI – Drie-en-twintig belangstellendes uit die gemeenskap het op 21 April 2008 die eerste Algemene Jaarvergadering van die Tambotie Versorgingsentrum vir bejaardes bygewoon.
Daar is breedvoerig oor die afgelope sestien maande se werksaamhede verslag gedoen.
Uit die Voorsittersverslag het dit onder andere geblyk dat die besettingsyfer deurlopend die optimum getal van tien inwoners was. Met ‘n personeelkorps van sewentien is hierdie inwoners 24 uur per dag en sewe dae per week en 365 dae per jaar versorg. Besondere dank is teenoor Suster Wikje Smit as Hoofverpleegkundige en haar personeel betuig wat deurgaans op uitnemende wyse hierdie uiters veeleisende taak met onderskeiding hanteer het.
Uit die finansiële verslag het geblyk dat met ruimhartige skenkings uit die gemeenskap, die boeke nie net elke maand kon klop nie, maar dat ook ‘n broodnodige kragopwekker vir noodgevalle  aangekoop kon word.
Die Bestuur is onbestrede herkies; naamlik : Ds Dirk Laufs-voorsitter, mnr Sarel Pretorius-ondervoorsitter, mnr Neels Kramer-penningmeester en mnre Piet van Rooyen en  Casper Pretorius. Die Vergadering het die vakatures gevul met : mevv Tilla van Oudtshoorn en Marie Steenekamp asook mnr Johan Prinsloo.
Dr Andries Buys het hom die benoeming as Beskermheer vir ‘n tweede termyn, laat welgeval.