Meer as 1000km afgelê by Expo
THABAZIMBI – Die deelnemers aan KANSA se Spin-a-Thon op Saterdag 3 Mei tydens die Expo het 1 054,82km afgelê, ten spyte van die reën.
En hoewel daar pyn op sommige gesigte te sien was, het almal pret gehad. Aksie was volop en deelnemers het gou besef dat tien minute van spin teen volspoed nogal uitputtend kan wees.
Die Spin-a-Thon het heelwat wenners in verskillende kategorieë opgelewer, waarvan die grootste wenners verseker Kansa was. Met hierdie reuse insamelingspoging is byna R50 000 vir Kansa ingesamel.
Die individuele wenners wat topspoed behaal het in die Mans- en Vroue-afdelings onderskeidelik was Ryno Reyneke en Madeleine Bornman, beide van Swartklip. Ryno se topspoed was 72,7km/h en Madeleine s’n 67,8km/h. Die Junior Seun wat gewen het, was Carlo Botha (Laerskool Tbz) teen 63,7km/h en die Junior Dogter Sonja Pieterse (Laerskool Tbz) teen 58,2km/h. Die Senior Seun was Johan Koekemoer en Senior Dogter Cherondé Oosthuizen, beide van HFM teen onderskeidelik 69,2km/h en 65,4km/h.
Die wenners van die spanne is bepaal deur die span wat die grootste aantal kilometer tesame afgelê het. Die Mans-span wat gewen het was die span van Cradlekind 1 (28,10km), die Vroue-span wenners was die Swartklip Proto-span (27,86km) en die Gemengde span was Swartklip1 met 31,77km. Swartklip1 het die Gemengde afdeling vir die vierde opeenvolgende jaar gewen.
Die Senior Seunsspan-wenners was HFM Rugby met ‘n afstand van 29,14km en die Senior Gemengdespan-wenners was NEOS Christian School met ‘n afstand van 25,40km. Die Junior Seuns-wenners was Laerskool Thabazimbi se Stormers-span wat 25,60km afgelê het in hul toegelate 10 minute en die Junior Dogter-wenspan was ook van Laerskool Thabazimbi, naamlik die Super Chicks, wat altesaam 24,38km afgelê het.
Volgens die organiseerder, Lize Momberg, het hulle vanjaar heelwat meer kategorieë gehad waarin deelgeneem kon word, en heelwat pryse is uitgeloof. Groot borgskappe is ontvang van Kumba Iron Ore, Impala Northam Plats en Swartklip myne, maar besighede in die dorp het ook groot bydraes gelewer, sê Lize. En dan natuurlik, sonder die ondersteuning van die Active Life Gym van Thabazimbi en Karin Spin Studio van Swartklip, sal hulle nie die Spin-a-Thon kon aanbied nie.