Agricultural

Tweebeen-roofdier bedreig jagluiperd

THABAZIMBI – Die tweebeen-roofdier is die spesie wat die grootste bedreiging vir die voortbestaan van jagluiperds inhou. Dit was die boodskap van Marilyn Hull van De Wildt Cheetah and Wildlife Trust tydens vertonings met die jagluiperd Byron by die Thabazimbi Expo.
De Wildt is reeds vir 34 jaar besig om die voortbestaan van jagluiperds te help bewerkstellig, nadat Anne van Dyk die nood en gevaar waarin jagluiperds verkeer gesien en daarop gereageer het deur die De Wildt-sentrum in die lewe te roep.
Tans is die beskerming van vrylopende jagluiperds ook een van De Wildt se groot prioriteite. Daar is begin met ‘n projek waar jagluiperds, wat as roofdiere geklassifiseer is, gevang en na beskermende gebiede versprei word. Waar dít nie moontlik is nie, word Anatoliese waghonde by skape en bokke geplaas om die vee te beskerm. De Wildt dra die koste vir die aankoop (teen ongeveer R5 000 per hond), voedsel en veeartseny-dienste vir die hond. Hierdie projek het ‘n 98%-sukseskoers.
Volgens Marilyn is Byron, die jagluiperd wat hulle tydens inligtingsessies gebruik, baie mensvriendelik. Tydens die Expo moes hulle oornagfasiliteite vind wat vir die De Wildt-personeel en Byron in dieselfde kamer kan akkommodeer. Om die waarheid te sê Byron slaap by Marilyn op die bed. Sy sê sy slaap weliswaar met een oog oop, maar dis alles vir ‘n goeie doel.
En Byron is voorwaar lief vir die aandag. Hy het toegelaat dat al die kinders wat Donderdag by die Expo sy “vertoning” bygewoon het, hom streel en meeste volwassenes  ook. En, volgens Marilyn, hou hy daarvan om gefotografeer te word. Hoe meer flitse, hoe meer pronk hy.
Marilyn het ook by die vertoning verduidelik wat jagluiperds so merkwaardig en kwesbaar maak. Die hoë spoed wat hulle behaal binne sekondes van ‘n statiese posisie, is hoogs uitsonderlik. Maar ongelukkig, wanneer hulle ‘n prooi gevang het, is hulle juis dan die mees kwesbaar om beroof te word daarvan, omdat soveel energie in die vang van die prooi gestort word en hulle dan eers moet rus voordat hulle kan begin vreet.