Heelwat deelnemers daag op by Koedoe Quad Fun Run
KOEDOESKOP – Die jaarlikse Koedoe Quad Fun Run, wat vanjaar as deel van die Thabazimbi Expo aangebied word, het op 3 Mei plaasgevind. Die quad run word jaarliks deur Laerskool Koedoeskop aangebied. Ten spyte van die reënerige en koue weer het al die deelnemers dit terdeë geniet. So hier en daar was daar ’n paar beserings, maar gelukkig was Henk Havenga en sy span daar tot hulle redding.
Van vroeg af was opgewonde manne met hulle quads en “two-wheelers“ op die terrein en kon nie wag om in te skryf nie. Elkeen het sommer voor die wegspring al sy medalje gewen – hulle was mos op die skoolterrein waar almal wenners en kampioene word. Die wegspring het 10 uur plaasgevind in die land van Henk Botha wat reg langs die skool terrein geleë is. Die “two-wheelers“ het eerste weggespring en ’n rukkie later die quads. Die reënerige weer het veroorsaak dat ’n paar deelnemers nie kans gesien het vir die tweede rondte nie, maar die wat nog moed en spoed oorgehad het die hele roete voltooi.
Die wenners in die onderskeie klasse was:
Rall Yzelle – ”two-wheeler“ – 0–299cc
Johan Snyman – ”two-wheeler“ – oopklas
Wynand – quads oopklas
Henry Roets – quads – 0-299cc
Laerskool Koedoeskop wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om die deelnemers vir hulle ondersteuning te bedank.’n Paar van hulle het ver gery om die opwindende roete te kon mee maak. ’n Groot dank ook aan al die ouers en onderwysers wat die dag moontlik gemaak het, julle is almal wenners.
Henk Havenga word by uitsondering bedank vir die uitstekende diens en ondersteuning wat hy aan die beseerders gelewers het.
Dan is daar al die boere van die omgewing wat hulle plase beskikbaar gestel het sodat die roete uitgelê kon word en saam met hulle bedank die skool al die borge. Sonder julle is so dag nie moontlik nie.
Sien julle almal weer by die volgende Koedoe Quad Fun Run wat op 9 Augustus 2008 aangebied gaan word.