40m diep by Wondergat
MAFIKENG – Werner van der Berg van Thabazimbi het 40m diep geduik by Wondergat, naby Mafikeng, waar die Poseiden Fees die afgelope naweek gehou is. Die wind, reën en ysige koue kon die duikers nie weghou van duik in dié besondere omgewing nie.
Werner, lid van die All-About-Scuba-klub van Rustenburg, vertel waarom ‘n 40m-duik so besonders is. Om op dié diepte te kan duik, moet ‘n mens oor die nodige opleiding en ondervinding beskik. Sport scuba duikers mag, met die nodige opleiding, net tot 40m diep duik, waarna tegniese opleiding nodig is om nog dieper te gaan.
Op 40m word ‘n duiker blootgestel aan stikstofverdowing, beter bekend as “nitrogen narcosis” as gevolg van 500 kPa (5 BAR) druk wat op die liggaam uitgeoefen word! Dit is gelykstaande aan die effek van 5 martinis wat gedrink word. Gelukkig verdwyn die effek as daar na die oppervlakte geswem word. Daar kan maksimum 9 minute op 40m vertoef word om die blootstelling en newe-effekte tot ‘n minimum te beperk.
Wondergat word geklassifiseer as ‘n vlak 2 en vlak 3 grot-duik area. Op 40 en 38 meter kry jy onderskeidelik die Noordelike en Suidelike Platvorms waar studente en duikers bymekaar kan kom.
Wondergat is ‘n natuurlike sinkgat naby Mafikeng in die Noord-Wes Provinsie met ‘n maksimum diepte van 70m in goeie reën-seisoene. Die water temperatuur bly regdeur die jaar konstant tussen 15 en 20 grade Celsius.
Die naweek het nie net oor scuba gegaan nie, maar dit was ook ‘n samekoms van ou vriende. Daar was elke aand heerlik gekuier om ‘n groot kampvuur en honderde scuba ervaringe is gedeel.
Enige persoon wat belangstel om by All-About-Scuba in te skakel kan vir Coenrad skakel by 083 357 1266 of hul webwerf besoek by www.allaboutscuba.co.za.
