Is jy gereed om te kook?

THABAZIMBI – Die Ready Steady Bush Cook Out item wat vir heelwat pret die vorige vyf jaar by die Wildsfees gesorg het sal vanjaar weer op die program wees. Die enigste verskil is dat dit Vrydag 2 Mei, wat ook nou ‘n vakansiedag is, aangebied sal word.
Die bekende Pieter Koen en ons eie Piet Planter sal vanjaar die item aanbied. Ready Steady Bush Cook Out is nie vir die kokke sonder waagmoed nie en beloof om heel prettig te wees.
Deelnemende spanne kry elkeen ‘n doos vol verrassings waaruit hulle ‘n voorgereg, hoofmaal en nagereg moet saamstel. Niemand weet vooraf wat die inhoud van hierdie verrassingspakkies is nie en dit verg nogal heelwat vaardigheid om iets oorspronklik op so ’n kort kennisgewing voor te berei.
Die een groot faktor waarmee deelnemers te doen het is die feit dat al die geregte op oop braaivleisvure voorberei moet word met die minimum van kookgerei. Bonop is daar in die verassingspakkie nog ‘n ekstra verrassing waarvan selfs die aanbieders geen kennis dra van wat dit is nie. Die vuur word darem vooraf voorberei maar deelnemers het net ‘n halfuur tyd om hul geregte op te tower.
Verlede jaar se bokknaters het ‘n bietjie glibberig afgegaan toe die damesspan maar bietjie in die duister was oor wat om daarmee aan te vang. Die manne in die ander span het die saak reg benader en ‘n heel aanvaarbare voorgereg daarvan gemaak. Die vorige jaar het Steyn Fourie gewys dat “Run aways” nie sy baas is nie, wie weet wat vanjaar in daardie pakkie gaan wees? Hoe dit ook al sy, hierdie item sorg vir baie kykplesier, veral as die twee aanbieders mekaar se spanne en mekaar aanvat met ongevraagde kommentaar.
Die twee deelnemende spanne sal uit die gehoor aangewys word. Sorg dus dat jy daar is om in aanmerking te kom om deel te neem en miskien die prys vir die beste kokke te kry. Die juiste tyd van aanbieding sal later bekend gemaak word maar volgens voorlopige beplanning sal dit omstreeks 12:00 by die klein verhoog naby die muurbalbaan plaasvind.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.