THABAZIMBI – Hengelaars oor die hele distrik word genooi om aan die jaarlikse Oewer- en Boot Hengelkompetisie, wat ten bate van Abraham Kriel Kindersorg gehou word, by die Roodekoppiesdam (naby Brits) deel te neem.
Die kompetisie, wat 12 tot 13 April duur, bied ‘n verskeidenheid uitstekende pryse aan. Daar is, onder andere, ‘n veselglaswaentjie, duisende rande se vakansieverblyf en wildjagpakkette, diens van ‘n buiteboordmotor (outboard engine), ‘n pols GPS en nog vele meer.
In die afdeling vir oewerhengelaars word pryse toegeken vir die grootste karp – mans en dames: eerste, tweede en derde plekke en skoliere: eerste plek – en in die afdeling vir boothengel word eerste, tweede en derde pryse vir die grootste babers en een prys vir die grootste bloukurper toegeken.
Hengelaars kan al Vrydag, 11 April vanaf 14:00 by die hekke ingaan. Die kompetisie begin Saterdag om 08:00 en bote mag dwarsdeur Saterdagnag visvang. Inweegtye vir die boot-hengel is Sondag 10:00 tot 11:00 en vir die oewerhengel 12:00 tot 13:00.
Die inskrywingsfooi is R150 per hengelaar, wat nie hek- en kampeergelde insluit nie. Spesiale verblyf-tariewe word tydens die kompetisie aangebied, naamlik R50 vir volwassenes en R20 per kind vir die hele naweek, ongeag die aantal tente en karavane. Geen aasbote of kano’s mag gebruik word nie.
Die hengelkompetisie is maar een van die fondsinsamelingspogings wat vir Abraham Kriel Kindersorg in Langlaagte geloods word. Die Proto-span van die Northam Plats Myn is ook besig met ‘n fondsinsamelingsprojek vir dieselfde instansie. Hulle het hande gevat met die Northam Plats Hengelklub om die gemeenskap in die omgewing betrokke te kry by die projek. Hoërskool Frikkie Meyer het reeds meer as 1000 blikkies kos en R7230 kontant vir Abraham Kriel ingesamel.
Die fondswerwer vir Abraham Kriel, Fans Müller, vra dat mense herinner word dat enige bydraes aftrekbaar is van belasting en dat ‘n Artikel 18A kwitansie uitgereik word vir alle fondse wat geskenk word.
Vir enige verdere navrae in verband met die hengelkompetisie kan Frans Müller by (011) 979 1017 (telefoon en faks) of 082 474 0302 geskakel word.
