Thabazimbiërs by Two Oceans

THABAZIMBI – Paasnaweek en Old Mutual Two Oceans Marathon is vir drawwers dikwels sinoniem met mekaar. Behalwe dat dit ‘n baie Spesiale naweek is, is dit ook een van uithou- en deursettingsvermoë.
Thabazimbi was hierdie jaar goed verteenwoordig by die Two Oceans Maraton. Charl Saunders (Thabazimbi Maratonklub) het sy wedloop voltooi met ‘n tyd van 5:14uur, Luzaan Combrink (Arate) het klaargemaak in 5:47uur, Herma du Plessis (Thabazimbi Maratonklub) in ‘n tyd van 6:34uur, Riaan Fourie en Charlotte Pienaar, albei van Thabazimbi Maratonklub, met ‘n tyd van 6:52uur. Hester Butler het die 21km-afdeling in 2:18uur voltooi.
Op Saterdag 22 Maart was daar baie atlete in hulle wegspringblokke gereed om die “aftog” te blaas met die 39e Old Mutual Two Oceans 2008. Met ‘n Kaapse suidooster wat die drawwers die oggend begroet het, het sowat 11 000 atlete om 6uur weggespring vir die 21km-halfmaraton. Om 06:25, met “Chariots of Fire” as inspirasie, het sowat 7 000 atlete die ultra-afstand van 56km aangepak.
Te midde van ‘n heerlike atmosfeer en baie opgewondenheid (óf stres) het die wedloop begin. Die la-a-a-ang pad was korter gemaak deur die omstanders en toeskouers wat drawwers aanhou aanmoedig het, goeie geselskap tussen die atlete, goeie waterpunte en, natuurlik, die mooi Kaapse omgewing.
Die wedloop het by Nuweland in Mainstreet begin, die M4 gevolg deur Muizenberg, Kalkbaai en Vishoek, van waar weggebreek is Noordhoek toe. Op 25km het die uiters uitdagende Chapman’s Peak vir die atlete gewag, waarna hulle deur Houtbaai, met wonderlike toeskouers en opgewonde “aanhitsers”, gedraf het. Hier is die drawwers verby die 42,2km-merk. Net daarna het Constantia Nek, wat vir ewig aanhou, soos ‘n “dief in die nag” gelê en loer. Verby die mooi en boomryke Kirstenbosch by die Universiteit van Kaapstad het die wenstreep gewink.
Vir sommige het die 56km-afstand vinniger verbygegaan as vir ander, want die wentyd vir die mans was 3:10uur en vir die dames 3:34uur.
Luzaan Combrink wens elke Thabazimbiër geluk met hul goeie tye. Dit vat harde werk, oefen vroegoggende, baie opoffering en deursettingsvermoë, sê sy. Met so ‘n wedloop besef mens net weer opnuut dat gesondheid ‘n Genadegawe is en nie net iets wat ‘n mens as vanselfsprekend kan aanvaar nie. Ons Hemelse Vader kom al die eer toe, sê sy.
Vir enige navrae oor Thabazimbi Maratonklub kan Barend Schlebusch by 083 521 9909, Louis la Grange by 083 401 6189 of Zanie van Rensburg by 082 330 7388 geskakel word.