KOEDOESKOP – die lugruim bo Koedoeskop het Saterdag 1Maart behoorlik gedruis toe meer as 40 vliegtuie, insluitend mikroligtevliegtuie en helikopters vanjaar se Kumnandi Fly-In bygewoon het.
Die Kumnandi-span het uitgehaal met vermaak vir almal, ‘n biertent, stalletjies, ‘n springkasteel en selfs ‘n uitstalling van trekkers . Al die prettighede was deel van ‘n fondsinsamelingsprojek ten bate van Neos Christelike Skool op Koedoeskop.
Van vroeg die oggend af was die vlieëniers begroet met ‘n uithang-ontbyt te Kumnandi Lapha Gastehuis. Die donderweer wat skielik opgesteek het, het veroorsaak dat verskeie van die vliegtuie, veral die mikroligtevliegtuie, na die ontbyt weer die lug gevat het om voor die storm uit te kom.
Dit het egter nie die geesdrif van die plaaslike vlieëniers gedemp nie en die manewales het begin. ‘n Sirkel is Saterdag die 1ste Maart op die baan getrek om te sien wie die mees akkuraatste ‘n meelbom kan gooi. Johan en Wilma Pienaar met hulle Auto-Gyro het met die trofee weggeloop. Roland van Tonder het op sy beurt gewys dat hy die man is wat die kortste veld nodig het vir opstyg en land. Spog verbyvlugte en ‘n vertoning met ‘n oesspuitvliegtuig het die dag afgesluit.
Thabazimbi besighede het weereens bewys dat hul staatmakers is met die borge. Altesaam R14 500 is ingesamel om Neos te help met hul bouprojek. Aan al die oop hande ‘n groot dank. Meer inligting oor die dag kan op die web tuiste verkry word: www.kumnandiflyin.blogspot.com
