Sport

Manne wys wie dra die lood

Die manne van Thabazimbi Gholfklub het nou darem genoeg gehad van die dames wat die afgelope tyd so voor op die wa was en het verlede Saterdag weer hulle staal gewys. Derek Torlage (65), Billy Pring (66), Pietie Terblanche (71) en Ettiene le Roux (73) was die wenners. Goed gedoen manne.
Saterdag 15 Maart word die Klub Kampioenskappe aangebied. Dit word in drie afdelings oor 36 putjies gespeel. Spelers kan egter ook net 18 putjies speel. Dit is ‘n prestige toernooi en daar word gehoop dat soveel as moontlik van die lede gaan deelneem.
Saterdag 22 Maart is dit ‘n Beterbal en spelers kies hulle eie maats.
Saterdag 29 Maart speel Thabazimbi se ligaspan op Mooinooi. Die manne het baie goed weggespring en sal hulle hopelik die tempo kan volhou.
Besoekers aan die baan kan nie uitgepraat raak oor die puik toestand van die baan nie. Die baan voldoen aan alle vereistes vir ‘n uitstaande baan. Goeie houe word beloon maar wilde houe kry die straf wat dit verdien. Van die putjies daag jou uit om hulle aan te val, maar kan jou ook hard terug byt as jy nie versigtig is nie. Op die setperke rol die bal eg en waar in die rigting waarin jy dit slaan. Dit is hoe ‘n gholfbaan moet wees.
Dankie aan Eddie Williams en sy span en ook die gholfkomitee wat soveel moeite doen om die baan in so’n toestand te hou.