Health

Skeer en sprei vir KANSA

THABAZIMBI – Hier is die kans vir Thabazimbiërs om hul solidariteit met kankerlyers te demonstreer – deur jou hare te kleur of te skeer, môre Saterdag 16 Februarie, by PaintNet op die hoek van Hamerkop- en Van der Bijlstraat.
Alles vorm deel van KANSA se landswye Shavathon-projek wat vandag en more gehou word. Belangstellendes kan tussen 9 uur en 1 uur hul opwagting maak by die parkeerterrein voor PaintNet. Dit sal R10 wees om hare te spuit en R20 om kaalkop geskeer te word. Bulhoek Slaghuis sal boereworsrolle verkoop.
Alle besighede, skole, kerke en sosiale groepe word genooi om deel te neem aan die Shavethon-projek, wat ook deur Nedbank en M-Net ondersteun word. Die projek behels dat soveel as moontlik lede van ‘n besigheid of organisasie hul hare afskeer en dan ‘n opponent-besigheid of -skool uitdaag om “kaler- of bonter kop” te gaan.
KANSA hoop om op hierdie manier Suid-Afrikaners meer bewus te maak van kanker en KANSA, die landswye organisasie wat kankernavorsing help bevorder, fondsinsameling-projekte loods en kankerpasiente ondersteun. Die tema vir 2008 se Shavathon is dan ook “stoppel met ‘n doel” oftewel “stubble with a cause”. Vir verdere navrae kan Lize Momberg van Kansa by 082-520-8455 of PaintNet by (014) 777-2040 geskakel word.