Jong Thabazimbier droom van groen en goud
THABAZIMBI – ‘n Jong Thabazimbier droom daarvan, eers om die blou trui, en later miskien die groen-en-goud, oor sy kop te trek. En stadig maar seker lyk dit of Vincent de Wet, ‘n flank, se planne besig is om in plek te val. Hierdie oudleerling van Frikkie Meyer is saam met 54 ander studente gekeur vir die Blou Bul Rugby Akademie vir 2008.
Vincent is ‘n student in Sportbestuur by Tukkies. Hy wy sy oggende aan sy studies en klasloop en smiddae bring hy by Loftus se Akademie deur waar hy sy rugbyvaardighede oefen. Hy het ‘n kontrak by Harlequins Rugby Club in Pretoria geteken.
Vincent, wat in 2006 aan die Hoërskool Wagpos in Brits matrikuleer het, het in sy tyd daar twee trofeë ontvang vir die Beste Voorspeler van die Jaar en die Beste Rugbyspeler van die Jaar.
Die rugbygene loop in die bloed, want Vincent se pa, Gerhard de Wet, het Noord-Vrystaat kleure verwerf in sy jonger dae. Hy is Vincent se mentor, en waarskynlik ook sy grootste ondersteuner. Sal ons maar sê “watch this space”?