Slegte nuwe jaar vir Vrou van die Jaar

THABAZIMBI – Thabazimbi se vrou van die Jaar, Gerda Halgryn, het sulke ernstige beserings opgedoen tydens ‘n val by Amandelbult-myn kort voor Kersfees verlede jaar, dat sy die afgelope maand in die bed was en waarskynlik nog ‘n maand op haar rug sal moet deurbring.
Dit was ook maar goed dat sy bietjie tot stilstand gedwing is hierdeur, want sy het dinge oordoen die afgelope paar jaar, vertel sy. Daar was nagte wat sy maar sowat twee uur slaap kon kry met al haar verpligtinge, en van vakansie die afgelope paar jaar was daar weinig sprake.
Sy is dadelik in die Amandelbult Hospitaal opgeneem ná haar val op 19 Desember en kort daarna oorgeplaas na die Peglarey Hospitaal in Rustenburg, waar hulle die geweldige inwendige bloed moes dreineer voordat hulle kon opereer. Gerda het egter ‘n terugslag ondervind en is op die operasietafel dood verklaar deur die geneesheer. Hulle kon haar egter bybring en van daar af het haar gestel geleidelik begin herstel. Meeste van die skade was aan haar linkerbeen en rug. Haar enkel is beseer, haar bobeen op twee plekke gebreek, haar heuppotjie het ‘n fraktuur en haar bekken is beseer. Een van haar laerug-werwels het gebreek. En kneusplekke en swelling het oor haar gesig en nek voorgekom. Sy “spog” nou met ‘n 72cm plaat in haar heup.
Van die nuwe jaar begin het, sterk sy aan by haar huis in Thabazimbi, waar haar kinders, Armin (16) en Amoré (8) en man, Erick moet aanpas by ‘n ma en vrou wat vir ‘n slag van húlle afhanklik is. Gerda, wat nog ‘n stryd voer teen infeksies, probeer intussen haar besigheid, ‘n personeelwerwingsagentskap, van die huis af bestuur.
Nog ‘n positiewe uitvloeisel van haar ondervinding is die verbetering aan die mynperseel waar sy beseer is. Binne 24 uur ná haar besering is die oprit, waarvandaan sy geval het, breër gemaak en ‘n reling opgesit, vertel Gerda.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.