Kaalkop vir KANSA
THABAZIMBI – KANSA nooi alle besighede, skole, kerke en sosiale groepe in Thabazimbi en omgewing om deel te neem aan die nasionale Shavethonprojek, wat deur Nedbank en M-Net geborg word. Die projek behels dat soveel as moontlik lede van ‘n besigheid of organisasie hul hare afskeer op 15 en 16 Februarie. Ander besighede of organisasies kan uitgedaag word en sodoende kan die hele land betrokke raak by hierdie projek. Sedert die ontstaan van die Shavathon projek is reeds R15 miljoen vir kanker ingesamel. Inskrywings is R50 per kop. KANSA hoop om op hierdie manier Suid-Afrikaners meer bewus te maak van kanker en KANSA, die landswye organisasie wat kankernavorsing help bevorder, fondsinsameling- projekte loods en kankerpasiënte tuis ondersteun. In die groter sentra kan individue hul hare laat afskeer by 80 inkopiesentrums deur die land. Al die hare wat afgeskeer word, gaan ook nie verlore nie. Dit word gebruik om nette te vervaardig om olie van oliestortings van die seebodem te verwyder. Alle navrae en versoeke (bv haarskeerders en aansoekvorms) kan aan Lucinda by Sho-Sho-Lo-Za Marketing tel (011) 234-0400 gerig word. Sien ook die advertensie oor Shavathon in hierdie week se Kwêvoël. Daar sal ook binnekort op radio en televisie meer oor hierdie projek bekend gemaak word.