Red Rooikuilspruit en sy oewers
THABAZIMBI – Elke keer wanneer ‘n motor in Thabazimbi oor ‘n brug ry, ry dit oor die Rooikuilspruit. Daar is minstens ses motorbrûe en een voetbrug oor Rooikuilspruit, ‘n rioolplaas en mynboubedrywighede op sy oewers voordat dit in die Krokodilrivier invloei. Maar dis nie al nie. Daar is rommel, ‘n 4×4-baan en ‘n magdom van plantegroei, veral uitheemse bome en struike. Daar was al pogings om die spruit op te dollie. By die brug in Hamerkopstraat is ‘n mooi eiland in die spruit, maar die totale prentjie is minder mooi en wys ‘n beskuldigende vinger na die inwoners en bestuurders van die dorp. Die hooffunksie van Rooikuilspruit is die opvang en wegvoer van stormwater na die Krokodilrivier. Die spruit vorm die laagste deel van die dorp en is die kanaal waarin alle reënwater wat in en om Thabazimbi val beland. Dit sluit afloop-water wat vanaf die suid-westelike hange van die Kransberge asook vanuit Kwaggasvlakte afkomstig is in. Hoe meer die dorp toegebou word, hoe minder natuurlike absorpsie van reënwater vind plaas. Die afloop wat vorm is dus meer en ‘n groter hoeveelheid water moet deur die spruit weggevoer word. Die stelselmatige dorpsuitbreiding in ‘n oostelike rigting sal beteken dat oorstromings later meer gereeld gaan voorkom, veral aan die westekant van die dorp, omdat die spruit in hierdie rigting vloei. Dit is juis aan hierdie weste kant van die dorp waar ontwikkeling tans naby die spruit geskiet. By een van hierdie nuwe ontwikkelings, tussen Warmbadweg en Villa Solatne, was daar skade na die goeie reëns die afgelope week. In Hamerkopstraat vind daar ook tans ontwikkeling langs die spruit plaas met twee wooneenhede wat daar gebou word. ‘n Mens kan maar net hoop dat Uitbreiding 15, die nuwe ontwikkeling oos, voorsiening maak vir ‘n wye oewerstrook. Dit blyk dat veral die ontwikkelaars van hoër-digtheid behuising, soos woonkomplekse, die beskikbare spasie tot op sy uiterste benut en wooneenhede naby aan die spruit bou. Volgens ‘n kenner op dorpsontwikkeling behoort hierdie tipe van ontwikkeling op die oewer van so ‘n spruit, met die gepaardgaande grondverskuiwing, nie sonder ‘n omgewingsimpakstudie te geskied nie. Dit is ook nodig dat ‘n nuwe 100jaar-vloedlyn bepaal word. Eers dan is die korrekte riglyne in plek ontwikkelings naby die spruit. Die Tegniese Bestuurder by die munisipaliteit, Cornelius Booysen, stem hiermee saam. ‘n Ingenieursverslag wat deur ‘n spruitoewer ontwikkelaar aangevra is, wys twee probleempunte uit: die twee laagwaterbruggies – een in Naomistraat en een wat na die nood- diensstasie en munisipale werkswinkels toe gaan. Die kapasiteit van die spruit om vloedwater hier te hanteer is minimaal. Die laagwaterbrug by ambulansstasie bestaan maar uit ses kleinerige stormwaterpype. Een blykbare oplossing wat deur die verslag aangetoon word is om die spesifieke bruggies se waterpype te vervang met driwwe (drift) aangesien dit minimale voertuig toegang bied. Probleme begin egter al by die brug in Elandstraat, waar ‘n bottelnek vorm onderdeur die pad en verby Andante-winkelkompleks en selfs verby die Deenastraat-brug. Volgens die verslag is die plantegroei in die spruit nog ‘n probleem wat die vloeikapasiteit van die spruit verlaag. Navraag by die munisipaliteit het nie veel opgelewer nie. Dit blyk dat kontrakteurs wel aangestel is om ‘n meesterplan vir stormwaterdreinering op te stel. Hierdie “Meesterplan” het blykbaar net die konsepfase bereik en is skynbaar nie deur kontrakteurs voltooi nie. Volgens die munisipaliteit is fondse skaars en op die vyf-jaar Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP) beklee die spruit en stormwaterdreinering ‘n vierde plek in terme van ‘n lys van dertien prioriteite. Anglo Platinum het wel fondse aangebied om ‘n volledige ingenieursverslag en –plan vir die stormwater-wegvoer op te stel. Miskien kan dit beteken dat werk nou in alle erns sal begin om hierdie probleem op te los. Vir die spruit self kan ons maar net hoop. Spore van klein bokkies is aan die spruitoewers waargeneem, daar is nog paddavissies wat in die poele uitbroei en heelwat watervoëls kan daar gehoor en gesien word. Miskien kan Rooikuilspruit nog eendag die fokuspunt en trots van Thabazimbi word. En hopelik tót dan sal daar nie verdere ontwikkeling toegelaat word, wat onkundige mense skade sal laat ly nie.
