Fase 2 ontwikkeling by Bosveld-oord
THABAZIMBI – Vir jare reeds bestaan die ideaal dat by Bosveld-oord voorsiening gemaak moet word vir dié bejaardes wat nie meer selfversorgend is ten opsigte van etes, wasgoed en dergerlike sake nie, maar eintlik nog geseënd is met goeie gesondheid. ‘n Vergadering om hierdie saak aan te spreek sal op Woensdag 23 Januarie 2008 om 18:00 by Bosveld-oord se saal gehou word. Die Bejaardesorg-Trust nooi die publiek uit om te kom en saam dink oor hierdie reuse projek. Fondse moet ingesamel word en die projek moet dringend aandag kry sodat die eerste inwoners nog in die loop van hierdie jaar ontvang kan word. Hierdie is ‘n gulde geleentheid om ‘n sinvolle bydrae te maak. Hulle doen ook ‘n beroep op elkeen in die gemeenskap om skenkings en erflatings te oorweeg vir hierdie groot saak. Die voorlopige bouplanne is reeds opgestel en nou is almal se insette nodig om van hierdie mooi droom, ‘n wonderlike werklikheid te maak. Die bevolking word ouer en die gemeenskap moet self aksie neem om sy bejaardes te versorg. Hier in Thabazimbi is daar reeds in 1993 skouer aan die wiel gesit om die Bejaardesorg-Trust tot stand te bring. Vandag pluk die gemeenskap die positiewe vrugte van daardie versiendheid, toe vier kerke in die gemeenskap hande gevat het om die Trust tot stand te bring. Die Bejaardesorg-Trust is verantwoordelik vir die bestuur van Bosveld-oord en is ook voogliggaam vir die Tambotie Versorgingseenheid vir verswakte bejaardes. In bejaardesorg is daar drie fases van versorging naamlik: Huisvesting vir bejaardes wat nog onafhanklik hulle self kan versorg, versorging vir diegene wat nie meer in staat is om totaal onafhanklik op te tree nie, maar steeds redelike goeie gesondheid geniet en vir diegene wat swak en bedlêend geword het en voltydse versorging benodig. By Tambotie Versorgingsentrum vir verswakte bejaardes word diegene wat swak en bedlêend geword het versorg. Ds Dirk Laufs, voorsitter van die Bejaardesorg-Trust, sê dit is ‘n groot seën dat hierdie Versorgingsentrum tot stand gekom het. Dít is die derde fase van die versorging van die bejaardes. Daar is egter nou groot behoefte aan die tweede fase van bejaardesorging wat die gaping sal vul tussen die bestaande wooneenhede by Bosveld-oord en die versorging van verswakte bejaardes by Tambotiesentrum.