Jonges verslaan die Oues

THABAZIMBI – Verlede Saterdag was dit weer die Oues teen die Jonges, en vir die eerste keer kon die Jonges die pyp rook met ‘n skamele 3 punte. Die ouderdom van die spelers het gewissel van 75 tot 16. Geluk aan Jonges. Die individuele wenners was Louise van Graan (39), Carel Payne (39), Pietie Terblanche (39) en Hendrik Prinsloo (37). Johan Smit, die jongste van die Jonges het ook ‘n Arend op No 15 aangeteken. Marina van der Wateren van Van Graan en Van der Wateren Eiendomme is die borg vir vanjaar se Slagspel trofees. Die Interaksie Gholf gaan ook op Vrydag 8 Februarie begin. Die kompetisie het so bietjie afgewater geraak die afgelope jaar of wat, maar die komitee wil vanjaar weer nuwe lewe daarin blaas. Die formaat gaan dieselfde bly, ‘n Beterbal met ‘n keuse bofhou. Die punte toekenning gaan egter aangepas word om dit makliker te maak. Spanne van vier moet asseblief so gou moontlik inskryf. Die baie populêre Sundowner wat elke Woensdagmiddag gespeel word, gaan nogsteeds deur Pick n Pay geborg word. Dan gaan daar weer deur die jaar ‘n paar Ekletiek kompetisies wees. ‘n Speler skryf in en met elke rondte kan daar op van die tellings van die vorige rondtes verbeter word. Die kompetisie word oor drie maande beslis en sal ook vanjaar in afdelings gespeel word. Saterdag 26 Januarie is dit ‘n Beterbal Kompetisie en Alta Venter is aan diens. Spelers skryf in pare in en die pare sal dan getrek word. 2 Februarie is dit Individuele Bonus Syferspel en Louise van Graan is aan diens. Februarie se Slagspel is op die 9de en Vollie Volschenk doen die diens. Die eerste Liga van die jaar is Saterdag 16 Februarie op die plaaslike baan. Die baan sal dan vir alle ander spel gesluit wees.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.