Rol daai moue op en skenk
THABAZIMBI – Een geskenkte eenheid bloed kan tot drie mense se lewens red. Waar gepoog word om ten minste sewe dae se O-bloed in voorraad te hê, was daar die afgelope vakansie gesukkel om ‘n volle dag se voorraad te handhaaf. Die gesogte O-bloedgroep kan aan enige pasiënt oorgetap word. Die SA Nasionale Bloeddiens (SANBD), Thabazimbi, by monde van die plaaslike organiseerder, Marie Steenekamp, nooi alle Thabazimbiërs om ‘n bydrae tot die nasionale bloedbank te lewer. Die afgelope jaar het Thabazimbi ‘n totaal van 812 skenkings ontvang met 107 wegwysings en 701 bruikbare eenhede bloed. As dit moontlik is, wil ons hierdie jaar nog meer eenhede skenk, sê Marie. Dink aan die SANBD as ‘n nasionale sportspan (soos die Springbokke) wat ondersteun moet word. Al wat bloedskenk van jou neem, is ‘n bietjie tyd. Wie se baas sal nee sê as sy/haar werknemers ‘n halfuur wil hê om te gaan bloedskenk? Diegene wat gereeld skenk sal weet hoe belangrik elke individuele skenking vir die SANBS is. ‘n Mens word gebel, gesms en dan nog bedank ook, om nie eens te praat van die koeldrank en koekies ná die tyd nie… Die skenking van veilige bloed is baie belangrik vir die SANBS. Skenkers moet gesond wees, tussen die ouderdom van 16 en 65 wees en meer as 50 kg weeg. ‘n Skenker moet ‘n veilige seksuele leefstyl handhaaf (dit wil sê: geen of slegs een seksmaat). Dis belangrik dat ‘n ete of versnapering voor die skenking genuttig word. ‘n Skenker mag slegs een maal elke agt weke bloed skenk. In Thabazimbi word bloed geskenk by die NG Kerksaal. Volgens Marie is die SANBD baie dankbaar teenoor die NG Kerk wat die fasiliteit beskikbaar stel. Die volgende drie datums waarop bloed geskenk kan word in Thabazimbi is 13 Februarie, 12 Maart en 9 April. Vir verdere navrae, bel Marie Steenekamp by (014) 772-1530 of 072-252-0770.
