Waarom skoolgeld?
Die Hoof Uitvoerende Beampte van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS), Mnr Paul Colditz, het in ‘n persverklaring die hele kwessie van die nodigheid van skoolgelde uitgelig. Dit volg na uitlatings deur die nuutverkose president van die ANC wat die jaar ingelui het met ‘n, op die oog af, betreffende ‘n redelik sensitiewe en belangrike saak, naamlik gratis skoolonderwys teen 2009 vir leerders van 60% van die Suid-Afrikaanse openbare skole vir die volle duur van hulle skoolloopbaan. Die uitgesproke doelstelling verg heelwat kommentaar. Eerstens is dit natuurlik ‘n lofwaardige ideaal. Die Internasionale Konvensie oor die Regte van Kinders vereis onder andere gratis onderwys vir alle leerders in die primêre fase van skoolonderrig. Die African Charter on the Rights and Welfare of the Child vereis weer gratis basiese onderwys vir leerders.(Presies wat “basiese onderwys” is, is nog nêrens oor ooreengekom nie. Die vraag is of hierdie lofwaardige ideaal in Suid-Afrikaanse konteks haalbaar is en wat presies daardie konteks is. Daar is in totaal sowat 25 000 openbare skole in Suid-Afrika. In werkliheid is dit verreweg die minderheid van daardie skole wat wel noemenswaardige skoolgeld hef. Op 5 Desember verlede jaar is net minder as 15 000 van daardie skole met effek vanaf 2008 “geen skoolgeld- skole” verklaar. Dit beteken dat die skole inderdaad geen skoolgeld mag hef nie en dat die onderrig by daardie skole gratis moet wees. Dit verteenwoordig dus 60% van die totale aantal openbare skole in die land. Dit laat ‘n mens wonder waar mnr Zuma was toe die Staatskoerant waarin hierdie aankondiging gemaak is, uitgevaardig is. Wat tog in konteks belangrik is, is die feit dat daardie skole in elk geval óf geen skoolgeld gehef het nie óf skoolgeld wat wissel tussen R50 per jaar tot R200 per jaar gehef het. Boonop is ‘n uiters geringe persentasie van daardie skoolgeld wel betaal eenvoudig omdat die ouers te arm is of omdat daar geen kultuur van betaling bestaan nie. Die verdere konteks wat belangrik is, is die grondslag waarop openbare skole befonds word. Buiten wat die voorsiening van onderwysers aan skole aanbetref, word skole op ‘n glyskaal deur die staat vir bedryfskoste befonds. In 2008 is die bedryfsbefondsing wat die 20% “rykste” skole in Suid-Afrika veronderstel is om van die staat te ontvang, R129 per leerder per jaar. In die geval van die volgende kategorie van 20% van die skole, is dit R388 per leerder per jaar. Die armste kategorie van 20% van die skole moet R775 per leerder per jaar ontvang. As ‘n skool dus 1 000 leerders het beteken dit dat die “rykste” skool R129 000 per jaar van die staat sal ontvang en die “armste” skool R775 000. Uit hierdie bedrae moet die skool alle bedryfskoste van die skool betaal. Dit sluit in onderhoud van terrein, geboue en toerusting, dienstegelde soos water en elektrisiteit, telefoon-, faks- en kommunikasiekoste, skryfbehoeftes, fotostaatkoste, alle leermateriaal, beveiliging en vele ander uitgawes. Om in perspektief te verstaan wat die omvang van die staat se bydrae is, kan genoem word dat bloot net die water- en elektrisiteitsrekening van ‘n gemiddelde skool soveel as R360 000 per jaar beloop. In een geval is ‘n Vrystaatse plattelandse skool vir vullisverwydering R240 000 per jaar deur die munisipaliteit aangeslaan. In ‘n opname wat reeds in 2003 onder sommige van sy lede gedoen is, het FEDSAS bevind dat die staat se bydrae tot die lopende bedryfskoste van daardie skole slegs sowat 3% tot 7% van die skool se totale koste beloop. In die geval van die voorbeeld van die “ryk” skool wat hierbo as voorbeeld gebruik is en waar die staatsbydrae R129 000 vir 2008 sal beloop, beteken dit dat die skool nog iewers vandaan meer as R4 miljoen moet vind om die skool se boeke te laat klop. In dieselfde opname is bevind die grootste enkele uitgawe op alle skole se begroting is die besoldiging van addisionele personeel wat deur die beheerliggaam aangestel is. Dit beloop tussen 30% en 40% van die meeste skole se begrotings. Hierdie personeel word enersyds aangestel om uiteindelik die gehalte van onderrig in skole te verbeter deur kleiner klasse, meer gespesialiseerde en gedifferensieerde onderrig en, andersyds, vir administratiewe en instandhoudingswerk. Volgens FEDSAS se beraming bied beheerliggame van openbare skole op hierdie wyse werkgeleentheid aan sowat 100 000 geskoolde en ongeskoolde mense terwyl die bydrae wat ouers tot skoolonderwys lewer, ongeveer R10 miljard beloop. Sonder hierdie bydrae sal dit nie moontlik wees om met die bestaande befondsingsmodel van die staat, sinvolle en gehalte onderrig in skole aan te bied nie. As in gedagte gehou word dat ouers wat nie skoolgeld kan bekostig nie, in elk geval op aansoek en onderworpe aan bepaalde maatstawwe, geregtig is op vrystelling van betaling van skoolgeld, dan is dit duidelik dat daar reeds veel meer as 60% van die leerders in Suid- Afrikaanse skole is wat gratis onderwys ontvang. Al kommentaar wat ‘n mens dus kan lewer op Zuma se uitlatings is dat sy onderwysadviseurs hom swak ingelig het.
