KROMDRAAI – Die vele aspekte van geestesgesondheid is belig deur die Kromdraai Kliniek vroeg in November vanjaar toe ‘n Geestesgesondheidsdag gehou is. Aspekte soos middelmisbruik, depressie en verskillende siektetoestande is bespreek. Die dag is goed bygewoon en kinders van plaaslike skole het sang- en dansitems opgevoer. Die SAP Rooiberg en Bela-bela het oor drank- en dwelmmisbruik onder skoolkinders gepraat. Victor Philane van Phakameng Kliniek het depressie as onderwerp behandel en suster Nora Langa het oor verskillende siektetoestande en hul simptome gepraat. Veiligheid by donkiekar-bestuurders was ook aangeraak. ‘n Donkiekarresies, om te sien wie se donkiekar die duidelikste sigbaar snags is, is gehou. Agt donkiekarre is geverf en weerkaatsers is opgeplak. Hierna het die resies plaasgevind, maar die donkies wou nie by Graatjie se winkel verby nie. Al die bestuurders se vernuf is ingespan om hulle tot by die kliniek te kry. Die eerste drie plekke het trofeë en kontantpryse gewen. Die kliniekpersoneel het ‘n “depressie-trein” geverf met verduidelikings van wat hierdie siektetoestand veroorsaak. ‘n Groot voorstelling van ‘n gesonde “boom” is gemaak om geestesgesondheid te illustreer. Om dié suksesvolle dag af te sluit is gebraai en geëet en lekker gekuier. Die personeel is baie dankbaar teenoor besighede en skenkers wie se bydraes gehelp het om die dag ‘n sukses te maak.
