Tobie Lombard
THABAZIMBI – Dit is moeiliker om met Jenny Kemna ‘n onderhoud te voer as met die staatspresident. Vir ‘n kamera se oog is sy bra ontwykend. Die tagtigjarige Jenny is nie ‘n eie beuelblaser nie, inteendeel sy verkies om haar werk stil agter die skerms te doen. Sy is betrokke by KANSA, die kanker vereniging van Suid-Afrika. Dit is juis die astronomiese bedrag geld wat sy vir KANSA ingesamel het wat daartoe gelei het dat sy en haar eggenoot Anton spesiaal afgevlieg is Kaapstad toe vir ‘n Gala byeenkoms waartydens sy aangewys is as die Nasionale wenner van die Mariette Loots trofee. Sy is ook aangewys as die algehele provinsiale wenner. Beskeie is die Hollands-gebore vroutjie wel. Sy en Anton is reeds baie jare inwoners van Thabazimbi. Die stil egpaar kan baie Saterdae voor SPAR gesien word waar hulle boeke namens KANSA verkoop. Sy onthou goed hoe lekker dit was om van huis tot huis te gaan met die Toktokkie-koevertjies vir skenkings vir kanker navorsing. “Deesdae kan mens dit nie meer doen nie. Die huise is so veiligheids versterk dat jy nie maklik toegang tot ‘n perseel kan kry nie. Dit is ook ‘n tendens dat die inwoners nie altyd tuis is nie” onthou sy. Aan aftree dink sy glad nie want sy sal aanhou werk totdat sy nie meer kan nie. Dit is ‘n welverdiende beloning wat Jenny Kemna ontvang het vir 25 jaar se getroue dienslewering. Die Kwêvoël wens haar en Anton geluk met hierdie besonderse groot prestasie. Julle opoffering gaan nie ongesiens verby nie. Bekende vorige wenners van hierdie uiters gesogte toekenning is Marike de Klerk (voormalige presidentsvrou) en Edith Venter (bekende sakevrou).
