General

Die Wildsfees is terug

THABAZIMBI – Goeie nuus vir almal wat reeds navrae gerig het oor die Thabazimbi Wild en Toerisme Expo vir volgende jaar is dat die Thabazimbi Munisipaliteit reeds op 29 November 2007 gedurende die vierde Raads Vergadering die resolusie geneem het dat Oppikoppi Produksies die Thabazimbi Wild & Toerisme Expo vir 2008 sal aanbied. Die Expo sal vanaf 1 tot 3 Mei op die gewone Feesterrein gehou word. Die hoop is dat die fees kan aanhou groei en wyer bemark word deur die OppiKoppi netwerk. Verder is die feit dat OppiKoppi Produksies die fees finansieel onderskryf van groot waarde in ’n tydperk waar die munisipale finansies elders gefokus moet word. Verder is daar ook ’n vaste onderneming om ’n persentasie van die hek- inkomste terug te ploeg in gemeenskapsprojekte wat gesamentlik geïdentifiseer sal word. Wat hierdie ooreenkoms baie voordelig maak vir die gemeenskap van Thabazimbi, is die feit dat die Thabazimbi Expo aangebied gaan word in 2008 deur ‘n organisasie wat spesialiseer daarin om feeste te organiseer en betrokke te raak by borgskappe van die feeste regoor Suid-Afrika wat vir verskillende teikenmarkte voorsiening maak, onder andere, Tuks Jool, Emmerentia , KKNK, Aardklop, Spier (Stellenbosch), Oppikoppi, Jazz Indaba (Mamelodi), Innibos, Bela Bela en vele meer! “ Ons plaas is in die distrik en oor die laaste paar jaar het ons geleidelik meer en meer by die fees betrokke geraak deur eerstens die Ketapele Jazz fees se aanbieding te hanteer. Ons dink egter dat feeste ’n geweldige sterk impak kan hê op enige dorp of distrik en Thabazimbi Expo het die potensiaal om dalk nog baie meer te groei as wat ons almal dink. Ongelukkig het baie van die feeste baie duur en professionele besighede geword, wat beteken mens moet amper volgehoue aandag aan die projek gee om suksesvol te wees, dit is nie meer soos in die ou dae wat die jukskei en tennis span bestuurskomitees om ’n tafel sit en gou die skou reël vir volgende maand nie. Hopelik kan ons ’n gedeelte van die ruggraat en professionele ondersteuning gee om saam met die plaaslike rolspelers die fees nog ’n stap vorentoe te laat neem. Thabazimbi is ideaal geleë om voordeel te trek van baie naweekbesoekers”, aldus mnr Carel Hoffmann van Oppikoppi Produksies. Gepraat van die Thabazimbi gemeenskap: die doelwit is steeds om so ver moontlik rolspelers uit die gemeenskap te betrek om te help met die fees. Verder het die Universiteit van Pretoria (Tukkies) gedurende die Thabazimbi Expo 2007 ‘n sosio-ekonomiese impakstudie geloods wat bepaal het dat ‘n bedrag van sowat R21miljoen gegenereer is in die lokale ekonomie deur die fees! Die hoop is om hierdie bedrag nog verder te verhoog in jare vorentoe. Vir diegene wat nuuskierig is oor die vordering van die organisering van die Expo…wees gerus! Op die 10de Desember 2007 was die Oppikoppi span reeds op Thaba Park besig met die terrein uitleg. Volgens Hoffmann (Bestuurder van Oppikoppi Produksies) kan die gemeenskap en feesgangers ‘n kookwater fees verwag in 2008! Die wenresep van die fees word nie verander nie maar slegs ontwikkel om die terrein te optimaliseer en meer uitstallers asook feesgangers geriefliker te kan akkommodeer. Die Oppikoppi Projekbestuurder vir die Thabazimbi Wild & Toerisme Expo 2008, Me Tanya Veldman lê groot klem op die tema van die Expo naamlik: Natuurbewaring, Toerisme en Gekontroleerde Jag. “Die betrokkenheid en inisiatief van die plaaslike gemeenskap is van kardinale belang, wat bydra tot die sukses van die fees, asook om die Thabazimbi Expo te differensieer van ander feeste en om te verseker dat toeriste en feesgangers ware bosveld gasvryheid kan kom ervaar” Maak ‘n nota op jou kalender vir die Thabazimbi Wild & Toerisme Expo 2008 wat aangebied sal word vanaf 1 tot 3 Mei op Thaba Park.‘n Ideale wegbreek naweek bosveld toe vir toeriste wat wil kom saam kuier en ontspan in die hartjie van die bosveld! Wanneer daar oor die kunstenaars uitgevra word wat volgende jaar gaan optree, glimlag die Oppikoppi span net… Dit sal vroeg in die nuwe jaar bekend gemaak word. Enige persone wat belangstel in uitstalruimte tydens die fees word versoek om die Oppikoppi Kantoor te skakel by 012 346 2011 of me Tanya Veldman by 082 373 3379 of by tanya@oppikoppi.co.za Algemene feesnavrae rakende die program en akkommodasie kan ook aan die Oppikoppi kantoor gerig word . Die Kwêvoël sal ook inligting beskikbaar hê op die webwerf: www.kwevoel.co.za