Beskermer nou vervolg?

THABAZIMBI – ‘n Polisieman wat waarskynlik gedink het hy doen sy bes om die gemeenskap van Thabazimbi te beskerm teen die gevare van ‘n swart mamba by die taxistaanplek, word nou van poging tot moord aangekla. Kapt Philemon Modibi, wat die mamba onder die taxi met ‘n haelgeweer geskiet het, het van die omstanders getref. Twee sake word nou ondersoek. Een is ‘n klag van poging tot moord, ‘n klag wat deur een van die beseerdes of hul ouers aanhangig gemaak is. Die Polisie het ook ‘n saak geopen, standaardprosedure wanneer ‘n vuurwapen in ‘n munisipale omgewing afgevuur word. By die taxi-staanplek in Thabazimbi was dinge verlede Dinsdagmiddag behoorlik in rep en roer toe ‘n swart mamba glo uit een van die bome geseil en onder ‘n huurmotor gaan lê het. Natuurlik is die SAP ontbied om hul rol as beskermer van die omgewing te vervul. Kapt Modibi het omstanders versoek om weg te staan en die slang onder die huurmotor geskiet. Volgens toeskouers het van die omstanders egter weer nader gestaan en is raakgeskiet. Na bewering het een vrou en twee kinders wonde aan hul gesigte opgedoen. Toeskouers sê ook dat drie beseerdes in die polisie- vangwa gelaai en weggery is, waarskynlik hospitaal toe. Die hospitaal ontken dat hulle daardie dag enigiemand met skietwonde behandel het. Intussen was die dilemma van die slang nog nie opgelos nie, want dié het na die skoot op hom tot teen die muur van die winkelkompleks langsaan geseil. Die omstanders het hom doodgemaak en gebrand.