Gee om vir ander padgebruikers
Wenke vir veilige padgebruik vir fietsryers en motoriste
Met die aanbreek van die somer, is baie mense besig om hulself fisies voor te berei vir een of ander marathon en/of fiets wedren. Hierdie voorbereiding verg ure se ry op ons paaie. Een van die groot probleme vir fietsryers is dat baie motoriste nie verstaan waaroor fietsry gaan nie. Baie motoriste is dus onseker oor wat hulle mag en nie mag doen wanneer daar skielik ‘n fietsryer voor hulle in die pad is nie. Hier is ‘n paar wenke vir motoriste oor wat hulle kan doen en wat nie. Hopelik kan dit klein bietjie help om die verhouding tussen motoriste en fietsryers te verbeter. Hoe om ‘n fietsryer van agter verby te steek: Die meeste fietsryers weet dat hulle op een of ander stadium van agter deur ‘n motor verbygesteek gaan word. ‘n Fietsryer benodig ongeveer sowat 1.5m tot 2m padoppervlakte om veilig op sy fiets te voel. As ‘n motoris te na aan fietsryers verby ry, raak hulle senuweeagtig en kan dit gebeur dat hulle beheer oor hul fietse verloor. Dit is wanneer ongelukke gebeur. Al wat hulle vra is dat motoriste nie teen hoë snelhede verby hulle moet skuur nie. Hou ook in gedagte dat vandag se paaie vol kantwegbrekings en gate is. Sou dit gebeur dat jy as motoris sien dat fietsryers darem net te veel van die padoppervlakte opneem en dit vir jou moeilik maak om hulle verby te steek, is my raad: Toet een maal. Jy sal aangenaam verras wees om te sien hoe graag fietsryers jou selfs sal bedank omdat jy so geduldig was terwyl jy hulle verbysteek. Sou jy as motoris ongeduldig raak en op jou toeter begin lê om die fietsryers basies soos ‘n trop beeste van die pad te jaag, kan dinge lelik begin raak. Dit is wanneer humeure kan begin opvlam. Niks word op die wyse bereik nie. Wanneer jy op ‘n groep fietsryers afkom wat in ‘n groot bondel die hele pad vol ry, toet weer een maal vinnig. Die fietsryers sal die boodskap kry en dadelik hulself begin organiseer om in enkel gelid agter mekaar in te val sodat jy as motoris kan verby kom. Weereens is dit belangrik om te onthou dat sekere nuwelinge in die fietsrysport dalk langer sal vat om by die enkel gelid in te val. Wees asseblief geduldig. Dit is nie dat die fietsryers doelbewus probeer om jou geduld as motoris te beproef nie. Eintlik is die beste benadering om ‘n groep fietsryers op dieselfde wyse te benader as wat jy sal doen wanneer jy ‘n vragmotor of motor verbysteek. Wees geduldig, wag vir die regte oomblik en steek dan verby met ‘n veilige afstand tussen jou en die fietsryers. Wat om te doen as fietsryers van vooraf aangery kom: Onthou fietsryers moet, soos enige ander padverbruiker, links hou wanneer hulle teerpaaie gebruik. Dit is net drawwers wat die aankomende verkeer van vooraf benader. Al wanneer fietsryers van vooraf vir jou as motoris dalk ‘n effense probleem mag wees, is wanneer jy by ‘n kruising, soos ‘n stop- of toegeeteken, wag om te draai of wanneer jy ‘n stadige voertuig voor jou wil verbysteek. Die belangrikste by ‘n kruising is om die fietsryer of fietsryers soos net nog ‘n aankomende voertuig te sien. Wag geduldig dat hulle oor die kruising gaan en draai dan, moet asseblief nie ongeduldig raak en skielik net voor die jaers inry nie. Iemand gaan seerkry. Wanneer ‘n motoris ‘n stadige voertuig wil verbysteek is die goue reël weer geduld. As daar fietsryers van vooraf kom, wag asseblief eers totdat hulle verby is voordat jy oor gaan na die regterkantste baan om die ander voertuig verby te steek. Fietsryers verwag nie dat ‘n motor reg van vooraf teen spoed op hulle afgepeil kom nie. Een of meer fietsryers mag skrik as dit gebeur, beheer oor sy fiets verloor en reg onder jou motor beland. Dit kan tot tragiese gevolge lei. Onthou die volgende asseblief: 1. Fietsryers gaan nie doelbewus uit hul pad om motoriste te probeer irriteer nie. 2. Fietsryers waardeer bedagsame motoriste wat nie ongeduldig raak wanneer hulle fietsryers moet verbysteek nie. 3. Die meerderheid van fietsryers is ook motoriste. 4. Elke fietsryer is iemand se pa, ma, broer, suster of kind. 5. Mense ry fietse omdat hulle ‘n gesonde leefstyl wil handhaaf. 6. Fietsryers kan selde, eintlik nooit bekostig, om vinnige bewegings op hul fietse uit te voer nie want, dit kan tot ‘n val lei. 7. Fietsry is ook ‘n sosiale manier waarop ‘n groep vriende saam kan oefen en gesels oor dit wat gedurende die dag in hul lewens gebeur het. Daarom ry hulle soms langs mekaar. As jy agtermekaar ry, kan jy nie eintlik met mekaar gesels nie. 8. Anders as in Suid-Afrika het fietsryers in die meeste Europese lande meer regte as motoriste. NS – Fietsryers moet ook, nes ander padgebruikers, verkeerstekens eerbiedig en stop waar nodig.