Bosvelder word Agri Limpopo vise-president
Elana Greyling
Belangrike kwessies in die landboubedryf is onlangs bespreek tydens die jaarlikse provinsiale kongres van Agri Limpopo in Tzaneen. Francois van den Berg, voorsitter van Agri Lephalale is tydens die Algemene Jaarvergadering verkies tot vise-president van Agri Limpopo. Dr Theo de Jager van Tzaneen is verkies tot president. Oor sy planne vir die provinsie wil hy nie veel sê nie, behalwe dat hy glo ‘n mens kom ver met ‘n positiewe houding. “Ek wil graag ‘n positiewe bydra lewer en op so ‘n manier probeer om ‘n verskil te maak in die lewe van boere.” Dit is die eerste keer dat iemand uit die Lephalale omgewing verkies is in hierdie top pos. Francois was voorheen op die dagbestuur saam met nog ‘n lid van Agri Lephalale, Hardus Steenkamp. Volgens een van die lede van Agri Lephalale is dit ‘n groot eer, maar nie onverdiend nie. Francois het ‘n groot rol gespeel in die onderhandelings met die stadsraad oor die nuwe beleidsdokument vir die heffing van eiendomsbelasting. Hy is stigterslid van Agri Lephalale en sedertdien die voorsitter. Francois het ook tydens die Kongres ‘n ere-toekenning van Agri Limpopo ontvang vir sy bydrae tot die landbou in die provinsie.