General

Drein loop al vir 18 jaar lank oor

THABAZIMBI – Ná agtien jaar in sy huis, sukkel Renier de Beer feitlik maandeliks met rou riool wat hom en sy bure se erf bemors as van die rioleringspype verstop raak. Sowat elke vyf weke word die munisipaliteit ontbied om die probleem aan te spreek, sê mnr De Beer. Dit het al gebeur, terwyl hy weg was met verlof, dat die munisipaliteit nie betyds in kennis gestel is nie, en ‘n laaigraaf ingespan moes word om die rou riool wat tot teenaan sy voordeur gelê het, te verwyder. Nou moet hy en sy buurman, wat laer geleë is in Mahemstraat as die bure in Hamerkopstraat, op wie se erf die drein geleë is, vore maak om die riool na die straat toe weg te lei. Van tuinmaak is daar hierlangs geen sprake nie. In die huis van sy bure, die Van Heerdens woon die 21-jarige Bertus, wie se Labradorgidshond mal is oor water – en rioolwater is geen uitsondering nie. Hier is die afleivoor al een meter breed om die volume van die drein se oorloop te hanteer. Die draad wat die erf skei van waar die drein is, is vol toiletpapier. Volgens De Beer is die wortels van drie groot bome in die omgewing verantwoordelik vir die gereelde verstoppings. Een van hierdie bome is ‘n reuse knoppiesdoring, die ander twee ‘n groot den en tipuana. Volgens hom is die munisipaliteit altyd gou om te reageer hoewel hulle heelwat soortgelyke probleme op ander plekke het. Amandelbult-myn, die eienaar van die erf waarop die drein geleë is, ontken dat enige klagtes rakende hierdie drein ontvang is. Ná die Kwêvoël se navraag is ‘n span van werke uitgestuur om ondersoek in te stel, maar die afwesigheid van ‘n verstopping op die oomblik van inspeksie maak aksie nie moontlik nie. Navraag by die munisipaliteit het aan die lig gebring dat die munisipaliteit vir die onderhoud aan infrastruktuur soos stormwater- en riooldreinering verantwoor- delik is. Wanneer herhaalde klagtes van dieselfde drein ontvang word, moet optrede van ‘n meer blywende aard ondersoek word, bv wortels wat verwyder of mangate wat vervang moet word. Daar was ook al in die verlede gevind dat dierkarkasse in stormwater- mangate gegooi word wat verstoppings veroorsaak het. Dit is egter ‘n aanvaarde feit dat die dorp se grootte die kapasiteit van die infrastruktuur oorskrei. Rioolwerke is ‘n groot prioriteit vir opgradering.